George Gordon met Kieters by een van die brandweerwaens.


Die brandweer-kat Kieters het haar die afgelope meer as nege jaar behoorlik tuis gemaak in Mangaung se hoof-brandweerstasie.

Sy was destyds ’n straatkat wat al meer by die brandweermanne kom kuier het en so bederf is, dat sy nou ’n permanente inwoner hier geword het. Soms slaap sy sommer by die nagskof se mense as dit koeler raak.

“Ons het al twee keer groot geskrik en gedink ons het haar verloor,” sê George Gordon, een van die brandweermanne wat haar lekker bederf.

“Eenkeer het iemand hier agter oor ’n grys kat gery. Ons was almal baie hartseer en het die kat ewe begrawe. Net sodat Kieters ’n rukkie later weer doodluiters hier by die beheerkamer instap,” sê hy.

“Die ander keer was so ’n maand gelede toe iemand ’n dooie grys kat in die straat gesien het, maar gelukkig was dit weer nie Kieters nie.”

Kieters het beslis nege lewens.

Sy is egter nie die vriendelikste kat nie en meng glad nie met mense wat nie in die brandweer-uniforms is nie.

Die brandweermanne het besluit om vir Kieters einde verlede jaar in te skryf vir Bloemnuus en Fleurdal Mall se 4VoetBesteVriend-kompetisie.

“Dit was omtrent ’n gedoente,” lag Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-brandweer en reddingsdiens.

“Om haar vir die kompetisie in te skryf, moes ons die nekdoek om haar bind om ’n foto te neem. Vier verskillende skofte het dié taak probeer verrig voordat ons ’n skaflike foto gekry het, maar op die foto was sy beslis nie ’n gelukkige kat nie.”

Francois Kritzinger, nog een van haar gunstelinge, sê sy is baie kieskeurig as dit by kos kom.

“Ons maak beurte om vir haar katkos te koop.”

Johan Janse van Rensburg sê hy het vir haar Kersfees-oorskietkos gebring en ’n video gemaak van hoe Kieters net die aartappelslaai eet en haar neus vir die vleis optrek.

Hy voer ook ’n swart kat, wat hulle Mattewis noem, wat voor die hofgebou oorkant die straat bly.

Kieters is ook baie slim en verdwyn vinnig wanneer die brandalarms afgaan.

“Ag dit is lekker om haar te pamperlang,” sê George oor hul spesiale brandweerlid.

You need to be Logged In to leave a comment.