Kind (3) verkrag, man in hof in Bloemfontein

Die jong man wat glo ’n driejarige kind by ’n crèche in Bloemfontein in ’n kleedkamer op die perseel verkrag het, sal later vandeesweek om borgtog aansoek doen.


Die jong man wat glo ’n driejarige kind by ’n crèche in Bloemfontein in ’n kleedkamer op die perseel verkrag het, sal later vandeesweek om borgtog aansoek doen.

Sy verhoor is op Maandag 13 Mei in die landdroshof in die stad tot Vrydag vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel. Hy bly tot dan in aanhouding.

Die staat gaan die borgtogaansoek teenstaan.

Die 24-jarige man se verskyning spruit uit die verkragting verlede Donderdag van ’n driejarige kind in die kleedkamer van ’n crèche in die Fase 6- informele woonbuurt.

Die meisie se 26-jarige ma het die voorval die middag by die polisie aangemeld nadat haar dogtertjie haar vertel het wat gebeur het.

Toe die ma haar uitgevra het, het die kind aan haar gesê dat die man haar na die toilet geneem en haar verkrag het.

Sy het halfnaak uitgehardloop en die man het haar agternagesit en haar klere aangetrek, het Volksblad vroeër berig.

Intussen is Agnes Lingani (60), eienaar van die crèche, borgtog van R1 000 toegestaan. Sy moet weer op 6 Junie in die hof verskyn.

Sy het vlugtig op aanklagte van kinderverwaarlosing en die onwettige bedryf van ’n kleuterskool verskyn.

Die Vrystaatse onderwysdepartement het vroeër in ’n verklaring gesê die crèche, wat 18 kinders versorg het, is die afgelope drie jaar onwettig bedryf.

Die crèche is intussen deur die departement gesluit, het Howard Ndaba, woordvoerder van die departement, gesê.

Die departement het reeds met ’n ondersoek begin om seker te maak dat die ander kinders nie ook slagoffers van verkragting was nie.

Voorts sal berading aan die kinders en hul ouers gebied word.

Ndaba, wat saam met verskeie ander amptenare van die departement die hofverrigtinge bygewoon het, sê hulle is bly die man is in aanhouding.

Hulle sal Vrydag weer die hofverrigtinge bywoon en is gekant teen die vrylating van die beskuldigde op borgtog.

You need to be Logged In to leave a comment.