Vier ywerige fietsryers het ’n plan gemaak om vir hulle ’n eie fietsrybaan in ’n parkie in Fleurdal te bou.
Die groep kinders moes altyd na Brandkop of Langenhovenpark ry om hul “jumps” te oefen, maar nou doen hulle dit sommer op hul eie voorstoep.
Dirk Kotzé, DA-raadslid in dié wyk, sê Marie Coetzer, ’n inwoner van Korpslaan oorkant die parkie, het hom einde verlede jaar genader om te sê daar is ’n groepie kinders wat graag ’n fietsrybaan in die parkie oorkant haar huis wil uitlê.
“Parkies is daar vir die inwoners. Dit is belangrik dat hulle gebruik word,” sê Kotzé. Hy sê hierdie is ’n wonderlike voorbeeld van hoe inwoners iets doen sodat ’n parkie gebruik kan word.
Hy sê hier is inwoners wat dele van die parkie se gras kort hou omdat die Mangaung-metro uiters selde hier gras sny.
Kotzé sê daar het in 2021/22 tenders uitgegaan vir die verskaffing van toerusting soos grassnyers en bossieskappers met die tydperk wat vanjaar in Junie ten einde loop. “Ek het nog nêrens gesien dat die metro se werknemers sulke toerusting gebruik nie,” sê hy.
Die jongmense het hulle egter glad nie laat afskrik deur die lang gras in die parkie nie.
Jan-Pierre Laubscher (14) en Henco Thompson (15) van die Hoërskool Fichardtpark, Nathan Pretorius (15) van die Hoërskool Jim Fouché en Jan-Pierre se sussie, Melody (12) wat in die Laerskool Fichardtpark is, het die afgelope vakansie hul hande behoorlik vuil gemaak om die baan met grond wat hul ouers help aanry het, te bou. Hulle het die baan ontwerp sodat hulle hul fietsrytegnieke en spronge kan oefen.
Hulle noem hul baan “Uitsig/Fleurdal Up and Down”.
“Daar moet nog baie werk gedoen word,” sê Henco. In groot dele van die parkie is die gras lank en wild en daar is ook hope gemors wat opgeruim moet word. Ons sal so bly wees as mense met grassny-toerusting ons kan kom help om die gras te sny en die hele parkie netjies te maak,” sê hy.
Jan-Pierre sê dit is net jammer dat skoolkinders wat nie besef dat hierdie ’n fietsrybaan is nie, hul sandhope wat sorgvuldig gelê is, kom stukkend skop.
Die parkie tussen Barry Richterlaan en Bismarkstraat in Fleurdal langs die Kay-winkelsentrum, is reeds jare lank ’n probleem vir inwoners weens vullis wat daar gestort word en rondlopers wat in die lang gras of bosse wegkruip.
Coetzer, wat sedert 1975 hier woon, sê sy glo as die parkie aktief gebruik word, sal daar minder rondlopers hier leeglê. “Dit sal vir ons almal veiliger word.”
Sy sê die kinders het hard gewerk en het hul fietse by haar kom bêre terwyl hulle die baan gebou het.
“Dis so lekker om te sien hoe lekker hulle nou hier fietsry,” sê sy.
Die jong fietsryers sê hulle wil die baan nog baie uitbrei en dat hulle dit sal waardeer as mense hulle kan help deur nog grond te skenk.