Kinders deel in Paaspret

Kinders van Oranjesig kon deel in die Paaspret danksy ’n geskenk van Genade in Aksie.


Kinders van Oranjesig kon deel in die Paaspret danksy ’n geskenk van Genade in Aksie.

Sowat 40 kinders van gesinne in dié woonbuurt het op Paas-Vrydag ’n geskenkpak met inkleurboeke, inkleurkryte en paaseiers van dié liefdadigheidsorganisasie ontvang.

“Ons wou spesifiek kinders van Oranjesig ’n bietjie bederf tydens die Paasnaweek,” het Maureen Oosthuizen van Genade in Aksie gesê terwyl kinders van alle ouderdomme opgewonde hul geskenke in ’n parkie in die woonbuurt ontvang het.

Amieke Pottas, wenner in die afdeling 8 tot 9 jaar in die Little Miss Free State-kompetisie wat die naweek by die Windmill Casino aangebied is, het gehelp om die geskenke uit te deel.

Oosthuizen sê die organisasie probeer so gereeld moontlik vir behoeftige gesinne in woonbuurte soos Erlichpark, Oranjesig, Noordhoek, Wilgehof, Navalsig, Hilton, Olive Hill en Bayswater, asook inwoners van die Fakkel-woonwapark in Noordhoek, kospakkies gee.

“Ons is afhanklik van skenkings om die kospakkies te kan uitdeel. Die gemeenskap is wonderlik en spring dadelik in as ons om hulp vra.”

Sy sê hulle het hier voor die winter ’n tekort aan skoene, warm kinderklere en komberse wat uitgedeel word waar nood is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.