Die borgtogaansoek van ‘n Bloemfonteinse ma en nog drie verdagtes wat in hegtenis geneem is nadat ‘n tweejarige seuntjie erg aangerand is, is vanoggend ‘n derde keer uitgestel. Die vier sal nou Donderdag in die Bloemfonteinse landdroshof om borgtog aansoek doen.
Gemeenskapslede het weer vanoggend deelgeneem aan ‘n optog na die hof om daarteen te betoog dat die vier borgtog kry.
Marietha le Roux, direkteur van Childline Vrystaat, sê dié organisasie is diep hartseer en geskok oor die nuus van die aanranding op die tweejarige seuntjie en sy sibbe.
“Hierdie tragiese gebeurtenis beklemtoon die aanhoudende krisis van geweld teenoor kinders in ons samelewing. Ons staan in solidariteit met alle kinders en gesinne wat deur sulke afskuwelike dade van mishandeling geraak word,” sê Le Roux.
Cynthia Burger, ’n maatskaplike werker van Childline Vrystaat, sê talle mense het sedert die voorval gesê hulle het vermoed iets is nie reg in die huis nie. “Mense is bang om vermoedens aan te meld omdat hulle nie betrokke wil raak nie. Juis daarom is daar hulpbronne beskikbaar soos Childline se hulplyn 116 waar mense 24 uur van die dag anoniem aanmeldings kan maak.”
Le Roux sê Childline Vrystaat is verbind tot die veiligheid, beskerming en welsyn van elke kind. “Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om waaksaam en pro-aktief te wees en enige mishandeling aan te meld. Elke kind verdien om groot te word in ’n omgewing waar hulle geliefd, versorg en vry van mishandeling is,” sê sy.
“Ons doen ’n beroep op beter samewerking tussen wetstoepassers, maatskaplike dienste en gemeenskapsorganisasies om onderliggende oorsake van insidente aan te spreek. Ons glo dat ons deur opvoeding, vroeë ingryping en ’n gesamentlike poging verdere tragedies kan voorkom.”
Die optog is gereël deur Hester Bekker van Guardian & Angel. Sy sê hulle gaan Donderdag weer opruk om te betoog dat borgtog nie aan die vier toegestaan word nie. Hulle het ook ‘n petisievorm wat lede van die publiek kan onderteken om beswaar te maak teen die toestaan van borgtog.
Die SAPD se Kinderbeskermingseenheid en lede van die publiek het nou ‘n petisie opgetrek waarin hulle die gemeenskap vra dat die vier verdagtes in die saak nie borgtog kry nie. Laai die petisievorm hier af, vul dit in en stuur dit aan die volgende e-pos-adresse: FoucheJ3@saps.gov.za of joninecalitz@gmail.com: Petisie