Christo Groenewald van AfroForum wys vir kinders selfverdedigingstegnieke.

Kinders het meer oor selfverdediging en praktiese vaardighede, wat hulle in lewensbedreigende situasies kan help, geleer.

‘n Kursus is Saterdag 15 November deur AfriForum se tak in Bloemfontein, AfriForum Jeug en die burgerregteorganisasie se plaaslike protospan aangebied.

Sowat 70 kinders van Engo se kinder- en jeugsorgsentrums het die selfverdediging- en noodhulpopleiding bygewoon. Hierdie inisiatief is daarop gemik om jong mense met praktiese vaardighede toe te rus en om hulle in staat te stel om reg en selfversekerd op te tree wanneer noodsituasies ontstaan.

Christo Groenewald en Wikus van der Walt bied ‘n selfverdedigingsklas vir kinders van Engo se kinder- en jeugsorgsentrums aan. FOTO’S: Verskaf

Volgens Wikus van der Walt, AfriForum Jeug se beampte vir strukture, is hierdie soort programme van kritieke belang gegewe die misdaadsituasie in die land. “Dit is noodsaaklik dat jongmense oor die nodige vaardighede beskik om hulself te verdedig. Deur hierdie inisiatief skep ons groter bewustheid oor persoonlike veiligheid onder jongmense.”

Die kinders is opgelei en toegerus met basiese, praktiese vaardighede en tegnieke om onder meer reg en veilig op noodgevalle te reageer; wapens op ’n veilige manier van ’n aanvaller af te neem; uit ontvoerders se greep te ontsnap; en lewensgevaarlike bloeding te identifiseer en onmiddellik te stop.J

Hierdie sessie vorm deel van ’n uitgebreide bewustheidsprogram wat ook ’n inligtingsessie oor mensehandel insluit wat op 13 November aangebied is. Die program fokus daarop om kinders toe te rus met die kennis om risiko’s te herken en hul persoonlike veiligheid te bevorder.

“Ons jeug is die toekoms van ons land en ons moet hulle sover moontlik beskerm teen die misdaad wat daagliks in Suid-Afrika eskaleer. Inisiatiewe soos hierdie stel hulle in staat om die nodige beginsels te leer om hulself te beskerm,” beklemtoon Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article