Ruvan (10) en sy ma, Rachel Blignaut, van Inspirare Academy in Willows.Foto: Lientjie Mentz


Uit ’n ma se passie om vir haar kind ’n goeie opvoeding te gee, het ’n skool ontwikkel waar tientalle kinders op die outisme-spektrum ’n heenkome gevind het.

Rachel Blignaut sê dit is net genade dat haar soeke na hulpmiddels vir haar seun, Ruvan (10), nou ook soveel ander ouers en kinders by Inspirare Academy help.

“Ruvan is in 2016 op tweejarige ouderdom met outisme gediagnoseer. Soos wat ek uitgewerk het wat vir hom werk, het ek besef ek kan dit wat ek geleer het, gebruik om ander kinders op die outisme-spektrum te help,” vertel Blignaut.

Sy het haar werk bedank en die skool begin waar daar nou 37 kinders, van kleuters tot kinders van tien jaar oud, in verskillende klasse skoolgaan.

Outisme word beskryf as ’n ontwikkelingstoestand wat ’n invloed het op hoe iemand die wêreld sien, asook sy of haar interaksie met ander.

Blignaut sê die kinders is dikwels goed met óf wiskunde óf taal. Kinders wat met verbale kommunikasie sukkel, toon gedrag-uitdagings omdat hulle sukkel om hulself uit te druk.

“Soos wat Ruvan ouer word, neem ek jonger kinders in. Ons fokus is op kinders wat nie in hoofstroomskole inpas nie, maar wat wel kan leer.

“Al moet ’n kind drie jaar lank gr. R doen; wanneer ons met hom die volgende werk begin, het hy gr. R onder die knie. Kinders moet hier 80% kry voordat hulle kan aanbeweeg na die volgende graad.”

Sy verduidelik Inspirare Academy steun swaar op assistente. Vir elke vier kinders is daar een assistent wat die kinders met klaswerk help.

Benewens die gewone grade-klasse, is daar ook ’n intervensieklas wat ouer kinders help wat nuut by die skool is.

Blignaut sê hulle leer ouers om uitkoms by elke kind te verwag.

“Moenie vooraf besluit hoeveel hy kan leer nie. Verwag iets van jou kind. Verwag dat hy sekere vaardighede en werk sal kan leer,” is haar raad.

By Inspirare word oplossings gesoek sodat elke kind sy potensiaal kan bereik.

Inspirare Academy was vanjaar een van 17 aansoekers wat geld uit Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds ontvang het.

Blignaut sê die geld uit die fonds gaan gebruik word om ’n heining op te rig sodat die kleiner kinders op hul eie ’n veilige speelterrein kan hê.

Mense wat ’n skenking aan Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds wil doen, kan ’n betaling doen in die volgende Nedbank-rekening: Volksblad-Kersfonds, 102-891-9980, takkode 117-134.

Stuur bewys van betaling aan annemarie@engo.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.