Die huis in Universitas wat ’n tuiste bied vir kinders wat vir kanker behandeling ontvang, spog met ’n nuut ingerigte kombuis danksy die vrygewigheid van ’n plaaslike onderneming.
Hedley Lewis, uitvoerende hoof van die Childhood Cancer Foundation (CHOC), was in Bloemfontein om sy dank te betuig aan personeel van SBA Towers SA, ’n telekommunikasie-onderneming wat talle skenkings gedoen het om die CHOC-huis in Bloemfontein te laat opknap.
Net voor Jeugdag, wat Vrydag (16/06) gevier is, het Lewis op 14 Junie gesê die verbeterings aan die kombuis in die plaaslike CHOC-huis help om die beste omgewing vir die jong pasiënte en hul ouers skep.
Melize Bruwer en Jacques du Toit van SBA Towers SA het gehelp om dit moontlik te maak dat nuwe kombuiskaste en ’n nuwe kombuis-eiland met ’n gasstoof ingerig is. Die mure in die kombuis is ook oorgeverf.
Hulle het boonop komberse en ander bederfies vir die kinders van CHOC-huis gebring, asook koek waaraan almal kon smul.
Sonet van Zyl van die plaaslike CHOC-huis sê die onderneming het benewens al dié hulp verf geskenk om die buitemuur oor te verf.
Lewis het tydens die geleentheid ook lof gebring aan die mediese personeel wat die geleentheid bygewoon het.
“Suid-Afrika kan met reg trots wees op ons mediese kundigheid. Hulle help om die kinders gesond te kry vir wie ons ’n tydelike tuiste bied.”
Hy sê met die viering van Jeugmaand is dit belangrik om weer die fokus te laat val op kinders met kanker.
“Ons is hier om hoop te bring en ’n veilige omgewing te bied waarin kinders en hul ouers kan bly terwyl hulle behandeling kry.”