’n Fantastiese belewenis wag op 500 kinders van 15 verskillende liefdadigheidsorganisasie in die Vrystaat wat op Vrydag 6 September die eerste keer gaan vlieg.
Danksy ’n wonderlike inisiatief genaamd Children’s Flight, gaan vlieëniers van oral oor die kinders in meer as 50 vastevlerkvliegtuie in die lug opneem vir ’n pretrit.
Lianie Myburgh, een van die plaaslike organiseerders van dié spesiale dag, sê hulle wil kinders, wat erge hartseer in hul kort lewens beleef het, vir ’n dag lank bederf met iets, wat hulle nooit sal vergeet nie.
Sy sê benewens die vlieëniers wat aan die plaaslike inisiatief gaan deelneem, is daar ’n “Remote Squadron” van vlieëniers van oor die wêreld heen, wat die projek geldelik ondersteun.
Feliz Gosher, wat Children’s Flight begin het en in ander provinsies aangebied het, bied dit vanjaar die eerste keer by Tempe-lughawe in Bloemfontein aan.
Myburgh sê tydens die geleentheid borg Spec Savers ook oogtoetse vir al die kinders. Studente van die Universiteit van die Vrystaat gaan met die oogtoetse help. Sy sê ander ondernemings wat graag by die dag betrokke wil raak of dit geldelik wil ondersteun, kan haar kontak by 066-306-1811.