Magdé-Marí Venter van Bloemfontein het Saterdagaand R37 000 vir hierdie skildery van die jong kunstenaar Siyabonga Gans (15) op Engo se Meesterstuk-konsert-en-kunsveiling betaal. Dit is die derde jaar dat sy sy duurste werk koop. Foto: Charles Smith


Die Vrystaatse liefdadigheids­organisasie Engo het die naweek R40 000 vir die jong kunstenaar Siyabonga Gans (15) ingesamel om aan die St Andrew’s School in Bloemfontein skool te gaan.

Engo het met sy Meesterstuk-konsert-en-kunsveiling die naweek boonop R296 000 vir sy sewe kinder- en jeugsorgsentrums ingesamel. Siyabonga se skilderye en kuns van die jong inwoners van die sentrums is ná twee konserte opgeveil.

Magdé-Marí Venter het ’n derde jaar agtereenvolgens die duurste skildery van Siyabonga gekoop toe sy R37 000 vir sy werk ’n Bejaarde man lees sy koerant betaal het. Sy twee ander skilderye is Saterdagaand vir R17 000 en R5 000 opgeveil. Venter het verlede jaar R14 000 vir sy topwerk betaal.

“Sy werke is vir my ongelooflik mooi en dit is lekker om te sien hoe hy elke jaar vordering in sy kuns toon. Die detail in sy werk is ongelooflik.”

Die drie skilderye van Siyabonga wat sy drie jaar agtereenvolgens gekoop het, gaan langs mekaar in haar sitkamer hang. Venter is as vrywilliger betrokke by Engo se Esperanza-jeugsorgsentrum in Bainsvlei, wat naby haar huis is.

Marinique du Plessis (organiseerder) en De Wet Claassens (hoof uitvoerende direkteur van Engo) met van die skilderye wat opgeveil is.Foto: Charles Smith

Siyabonga sê dit is die meeste wat een van sy skilderye nóg behaal het.

“Ek is baie trots en verstom hieroor. Ek wil God bedank vir my talent en alles wat met my gebeur.”

Sy werk is die eerste keer in 2021 by die Meesterstuk-konserte uitgestal. In ’n koerantberig het hy genoem sy grootste droom is om gr. 8 in St Andrew’s te begin, en die skool het hom toe ’n beurs aangebied.

Hy is ’n gr. 9-leerling aan St Andrew’s en staan eerste in sy graad met ’n gemiddeld van 94%. Hy het ook ’n volle beurs ontvang en is in die koshuis. Siyabonga is daarby ’n trotse leerling van die Nellie-Brisley School of Art.

“Ons word elke jaar só geseën en voel net ons kan belê in ’n kind wat sy drome najaag,” sê Marinique du Plessis, organiseerder, oor Siyabonga.

Karien van Coller (links) en Aninka Senekal van die Laerskool Willem Postma het met die dekor en kostuums vir Engo se Meesterstuk-konsert-en-kunsveiling gehelp.Foto: Karen Herbert

Alda Fourie, woordvoerder vir Engo, sê die Meesterstuk-konsert-en-kunsveiling is vanjaar ’n vyfde keer ten bate van die sewe Engo-kinder- en jeugsorgsentrums aangebied.

Meer as 700 gaste het oor die twee dae die konserte bygewoon. Altesaam 80 kinders van die Esperanza-, Gardenia­park-, Carpe Diem-, Gladstone-, Amore- en House of Compassion-jeugsorg­sentrum was deel van die konsert.

“Verlede jaar se geld het gehelp met spelterapie, arbeidsterapie, skolastiese assesserings en perdeterapie, asook oogtoetse en nuwe brille waar kinders dit nodig gehad het,” sê Fourie.

“Ons beplan om met vanjaar se geld van die kinders wat nie kan swem nie vir swemlesse te stuur en om klimrame by van die sentrums op te rig. Die geld sal steeds deurlopend vir terapeutiese dienste aangewend word om die kinders by te staan.”

You need to be Logged In to leave a comment.