Een van talle projekte wat Grey-kollege (primêr) vanjaar aangepak het, is om wintersnagklere te skenk vir die kinders van Ons Kinder-en-jeugsorgsentrum.
Frikkie van Dyk, prinsipaal van dié Engo-jeugsorgsentrum in die stad, het op 28 Junie 134 stelle nagklere by die skool in ontvangs geneem.
Elke stel nagklere is vir ’n spesifieke kind gekoop, volgens sy of haar grootte, en dit is vir elkeen spesiaal verpak.
Van Dyk sê die kinders gaan hierdie winter lekker warm slaap.
“Dit in splinternuwe nagklere – wat ’n voorreg.”
Die skoolhoof van Grey-kollege (primêr), Jurie Geldenhuys, sê die skool onderneem gereeld verskeie projekte.
“Ons onderneem deur die jaar projekte wat die seuns ’n geleentheid gee om in die gemeenskap betrokke te raak en ’n positiewe verskil te maak. Dit is vir ons belangrik om die seuns ook op te voed en bewus te maak van hul maatskaplike verantwoordelikheid in die gemeenskap.”
Engo het 33 kinder-en-jeugsorgsentrums in die Vrystaat, waarvan 18 in Bloemfontein is. Die huise bied ’n huislike atmosfeer vir tot 15 kinders.
Daar is ongeveer 800 kinders wat in die Vrystaat in Engo kinder-en-jeugsorgsentrums versorg word.
Dié kinders is deur die Kinderhof uit ongunstige huislike omstandighede verwyder. Engo probeer altyd om die kinders weer met hulle ouers of gesinne te herenig, indien dit tot voordeel van die kind is.
Enigeen wat by Engo se kinder-en-jeugsorgsenturms betrokke wil raak, kan ’n WhatsApp-boodskap na 060-548-5543 stuur, of ’n e-pos na info@engo.co.za.