’n Skapie wat sommer vinnig diep in kinders se hart gaan kruip, kuier op Saterdag 16 November by die Geloofsentrum Universitas in Bloemfontein.
Carlie Niehaus, bemarker en kommunikasiebeampte by die NG kerk Vrystaat se sinodekantoor, sê die oulike idee van Leon die lammetjie wat kinders meer oor die Bybel leer, het ontstaan omdat hulle iets vir kinders in die NG kerk wou bied.
Sy en haar kollega Celicia McLean het die illustreerder en kinderboekskrywer Martin Schwella van Schink gekontak, en hy was net so opgewonde om saam met hulle aan iets spesiaals te werk vir die Jonk Vrystaat.
Die verlore skapie is die eerste verhaal wat in die Blêr-kinderstoriereeks verskyn het. Die verhaalreeks was so gewild dat die eerste storie nou in boekvorm uitgereik word – en kinders van oor Bloemfontein heen en selfs verder kan kom om Leon die verlore skapie te ontmoet.
Schwella sê die metafoor van die Here wat ’n herder vir sy skape is, het hom geïnspireer om die karakter Leon en sy maatjies te skep.
“Ek en ds. Francois Lamprecht van die NG kerk se Jonk-netwerk het baie gepraat oor die teologiese kant van die verhaal. Ek wou met die verhaal ’n avontuur skep en ’n boodskap uitdra wat op die regte plekke sou land,” vertel hy.
“Ek het hier in Bloemfontein grootgeword en deel in die boek iets daarvan.”
Hy sê die boek is op kinders van agt tot tien jaar oud gemik, maar ook jonger kinders sal die stories in die luisterboek op Spotify sommer baie geniet.
Saam met die storie het Schwella ’n lofliedjie geskryf wat kinders op die oggend van die bekendstelling sal kan saamsing om die mooi boodskap van Die verlore skapie vas te vang.
Hy sal op die geleentheid uit die boek voorlees.
Niehaus sê hulle sien baie uit na die bekendstelling van die boek.
“Die Here se hand was op die projek,” sê sy.
“Daar was sommer ’n hele paar kreatiewe mense wat help om die boodskap op ’n opwindende manier by kinders uit te bring.”
Sy sê die boek gaan ook in Engels vertaal word, en ’n volgende boek in die reeks kan binnekort verwag word.
Die kaartjies vir die bekendstelling en pretdag by die Geloofsentrum Universitas, wat van 10:00 tot 12:00 duur, kos R50 vir volwassenes en R120 vir kinders. Rig navrae by 051-406-6700, of stuur e-pos na carlie@ngkvs.co.za.
Een leser staan die kans om kaartjies vir twee volwassenes en twee kinders te wen. Die kinders sal ook elk ’n Blêr-hempie ontvang.
Om in te skryf, besoek Bloemnuus op Facebook. Die wenner sal op Maandag 11 November op BloemNuus se Facebook-blad aangekondig word.