Schalk Wentzel vra Marinique du Plessis om te trou op die Meesterstuk-konsert.

‘n Luide gejuig het opgeklink aan die einde van Engo se Meesterstuk 4-konsert Saterdag 17 Mei toe die organiseerder van die konsert se kêrel van vier jaar, haar op die verhoog vra om met hom te trou.
Marinique du Plessis, ‘n maatskaplike werker wat die afgelope vier jaar die konsert van kinders van Engo se Esperanza, Gardeniapark, Carpe Diem, Gladstone, Amor en House of Compassion Jeugsorgsentrums in Bloemfontein reël, was oorbluf toe haar kêrel, Schalk Wentzel op die verhoog klim. Gaste op die geselligheid by Leopards & Lace en die kinders was behoorlik begeester toe hy die mikrofoon neem.
“Kinders, julle het hard aan die konsert geoefen,” het hy gesê: “Maar julle moet my nou help met iets wat julle nie geoefen het nie. Dis ‘n idee wat in die laaste 24 uur ontwikkel het en ek kan dit nie alleen doen nie. Ek gaan sê: Tannie Marinique, dan sê julle, sal jy met oom Schalk trou.”
Marinique vertel die idee het Vrydag by die eerste van twee konsert by Schalk posgevat toe haar kollega, Debbie Conradie, hom aangepor het om Marinique die volgende aand te vra om te trou. Toe hy sê hy het nog nie ‘n ring nie, het sy vir hom ‘n paar ringe geleen waaruit hy kon kies sodat hy vir die geleentheid iets aan haar vinger kon sit.
Vanjaar se tema was hoeka Boer kry sy vrou!
“Al is hy eintlik ‘n fisioterapeut,” sê Marinique wat heel gepas ‘n trourok aangehad het in die laaste toneel van die konsert.

Sy sê die kinders kan nie uitgepraat raak oor die oomblik toe hy haar gevra het om te trou nie en hulle wil net begin troureëlings tref.

By een van Siyabonga Gans (links) se skilderye is langs hom Marinique du Plessis en De Wet Claassens (uitvoerende hoof van Engo). Foto: Verskaf


Oor die twee aande het 780 gaste die konserte bygewoon. Die kinders het die konserte baie geniet en het hul harte uit gedans.
Soos elke jaar het die kinders van die jeugsorgsentrums skilderye, maar vanjaar ook houtbeeldjies gemaak wat ten bate van die huise opgeveil is.
Sy vertel verlede jaar se insameling is gebruik om speelrame by elke sentrum te laat oprig.
“Jaarliks word die wins van die Meesterstuk-konserte gebruik vir terapeutiese en mediese uitgawes en soms om die kinders op toere te neem.”
Soos elke jaar was Siyabonga Gans, wat danksy dié konserte ‘n beurs by St. Andrew’s School gekry het en sy kuns met klasse kon verbeter, weer daar met nog van sy kunswerke.

Tydens sy toespraak het hy gesê hy kan sien hoe die Meesterstuk-konsep in kinders se lewe ‘n verskil maak, veral in sy eie.
Engo skenk weer vanjaar ‘n bedrag aan Siyabonga, wat gebruik word vir sy skoolbehoeftes. Nie net is hy ‘n fantastiese kunstenaar nie, maar hy staan eerste in gr. 10 in die skool met ‘n gemiddeld van 91%.

You need to be Logged In to leave a comment.