Donna le Roux, dogter van die eertydse Springbok-rugbyspeler Ollie le Roux, het seker gemaak van haar oorwinning en Dinsdag (11/04) haar vierde nasionale enkelspel-tennistitel ingeryg.
Sy en twee ander Bloemfonteinse tennisspelers het uitgeblink en elk oorwinnings in hul onderskeie afdelings op die Nasionale Junior Tenniskampioenskap in Bloemfontein behaal.
Donna (Hoër Meisieskool Oranje) het haar enkelspel én dubbelspel in die afdeling meisies o.16 gewen nadat sy verlede jaar die naaswenner in die enkelspel was.
Donna (2de gekeur) het in die enkelspel vir Allegra van der Walt van Noord-Gauteng (10de gekeur) met 6-1, 6-2 in hul eindstryd op die Mangaung-tennisbane verslaan.
Donna se dub- belspelspan- maat, Morgan Jordaan van Pretoria, was eerste gekeur en het hulle goed van hul taak gekwyt deur Korona Rugara en Abigail Wheeler met 6-0 en 6-1 te verslaan.
Cornel Liebenberg, matriekleerling van Grey-kollege (sekondêr) en seun van eertydse Protea-krieketspeler Gerhardus Liebenberg, het saam met sy dubbelspel-spanmaat Lian du Toit vir Drikus de Jager en FransWillem van der Merwe met 5-7, 7-6 (7) en 10-6 gewen. Cornel en Lian was derde gekeur vir die dubbelspel.
’n Nuwe, blink ster op die tennisbaan, is Nathan Herbert van Grey-kollege (primêr). Nathan (16de gekeur) het in sy opmars na die enkelspel-finaal in die o.12-afdeling die eerste gekeurde Keegan Groenewald met 6-2, 7-5 verslaan. Hy het in die finaal teen die derde gekeurde Juvan van Pletzen verloor met 6-2, 6-1.
Hy en sy dubbelspelmaat Awert Viljoen van Vrede, wat nie gekeur is nie, het die beker omhoog gehou toe hulle Keegan en sy spanmaat Tristan Summers wat eerste gekeur was, met 7-5 en 6-2 in die stof laat byt het.
Dit was Donna se vierde tennistitel in ’n nasionale toernooi nadat sy twee o.10-titels asook ’n o.14-titel gewen het.