Kitswerk val deur die mat

Kort nadat die Vrystaatse premier Dinsdag (31/05) die pad tussen Bloemhof en Hoopstad besoek het, is twee laerskoolkinders Woensdag dood in ongeluk op dié pad.


Kort nadat die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, Dinsdag (31/05) die pad tussen Bloemhof en Hoopstad besoek het, was daar Woensdag ’n ongeluk waarin twee laerskoolkinders dood is.

’n Inwoner van Bloemhof wat op die toneel van die ongeluk was, sê dit is juis net ná die slegte 8km van die pad waar dié ongeluk plaasgevind het.

Sy sê die kant van dié pad, waarop mense baie gereeld bande verloor en waarop mense baie onverskillig ry, is Dinsdag geskraap en van die grond is in slaggate gegooi wat die situasie vererger het. Sy sê die stof hang ook oor die pad wat toestande gevaarliker maak.

Met die premier en die LUR vir polisie, paaie en vervoer, William Bulwane, se besoek Dinsdag aan Hoopstad om na die toestand van paaie daar te kyk, het Vrystaat Landbou ’n memorandum aan die premier oorhandig wat antwoorde eis oor die haglike toestand van paaie in die provinsie en hoe dit landbou direk raak.

’n Video is onlangs versprei oor dié slaggatbestrooide pad wat deel vorm van die R34 wat van Memel in die Oos-Vrystaat deur die Noord-Kaap en tot by Vryburg in Noordwes strek.

Jakkals le Roux, verteenwoordiger van Vrystaat Landbou, het tydens die premier se besoek gesê dit is net “ ’n publisiteitsfoefie”.

“Dit was merkwaardig om vanoggend (Dinsdag) skielik padinstandhoudingmasjiene op ons paaie te sien verskyn om onbegaanbare paaie te ‘herstel’ net voor haar aankoms hier.”

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê die organisasie sal openbare druk op die premier en die verantwoordelike amptenare handhaaf om paaie reg te maak.

In die memorandum eis Vrystaat Landbou dat hierdie paaie deur professionele ingenieursfirmas herstel word en dat dit nie net nog ’n politieke werkskeppingsprojek vir polities verbonde kaders is nie.

Daar word ook gevra dat Bulwane die begroting en planne vir padinstandhouding in die provinsie aan die publiek bekend stel.

George Michalakis, Vrystaatse DA-lid van die Nasionale Raad van Provinsies, eis antwoorde by Bulwane oor waarom ongekwalifiseerde kontrakteurs ter waarde van meer as R700 miljoen aangestel is om oor drie jaar slaggate in die provinsie te vul.

Hy sê paddistrikowerhede in die provinsie het die afgelope paar jaar vaardighede en kundigheid verloor omdat hulle nie behoorlik fondse ontvang om hul werk te verrig nie.

Cheréne Pienaar van Netwerk24 berig Ntombela het gesê 23 km van die 35 km is reeds in die afgelope boekjaar herstel. R115 miljoen is daaraan bestee. R60 miljoen sal aan die orige 12 km bestee word as deel van fase 2 van die projek.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.