Die komediedrama Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene met Dean John Smith en Mienke Ehlers debuteer op die KKNK. FOTO: Gys Loubser

Vanjaar vier die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) 30 jaar van kuns en vermaak. Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur, sê daar word met dié fees teruggekyk na waar alles begin het en op hoe die fees oor die jare ontwikkel het.

Dié bekende fees vind van 28 Maart tot 4 April in Oudtshoorn plaas.

“Die viering kyk ook voluit vorentoe. Feesgangers kan vir die 30ste jaar uitsien na ‘n fees wat bruis van talent – dié van veterane én opkomende kunstenaars.

“Die gewilde aanbiedings van die fees is volgepak, met ‘n paar nuwighede en opwindende aanpassings.

Die Zip Zap Circus is ‘n eerste keer op die KKNK op die verhoog, met MOYA. FOTO: Joan Ward

“Op die teaterprogram is verskeie debuutproduksies van nuutgeskrewe tekste en vertalings, asook ‘n keur van bekroonde en gewilde werke wat die afgelope tyd by ander teaters en feeste te sien was.”

Die Feesmark is ekstra woelig, met twee musiekverhoë waar van Suid-Afrika se voorste en gewildste sangers en musikante te sien is.

‘n Spesiale Voluit-openingskonsert op 28 Maart met verskeie verrassings, asook die ou bekende Karoo Pops, op 29 Maart, en Kaktus, op 2 April, is terug.

Verder bied die Feesmark ook kinderteater in die Klein KKNK-teater, kort teaterproduksies met Blitsteater, asook markte en leefstylervarings deur die loop van die fees.

Bykomend is gratis vermaak in Baron van Reedestraat by die RSG en ATKV-Kuierkol, verskeie gespreksreekse en visuele kuns.

Teaterhoogtepunte sluit in die terugkeer van Nicola Hanekom met ‘n plekspesifieke drama, Die gebed van ‘n halfmens, onder regie van Hanekom – met Tobie Cronjé, Annelisa Weiland, Marlo Minnaar, Brendon Daniels, Alyssa van Reenen en Gretha Brazelle.

Die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye se herbesinning oor die Trojaanse oorlog in Atropa: Die wraak van vrede – onder regie van Marthinus Basson met Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellermann, Rolanda Marais, Tinarie van Wyk Loots, Carla Smith en Geon Nel – debuteer op die KKNK.

Saartjie Botha is terug met ‘n splinternuwe stuk, ge-gebergtes, met Nic de Jager, Daneel van der Walt, Miché van Wyk en Ntombi Makhutshi.

Botha hanteer ook die verwerking van Die ander dogter, ‘n nuwe eenpersoonvertoning met Sandra Prinsloo. Die teks is deur Annie Ernaux geskryf, uit Frans vertaal deur Naòmi Morgan en onder regie van Lara Foot.

Carla Smith se eerste toneelstuk debuteer op die KKNK. CRYBABY, waarvoor sy ook die regie hanteer, is te sien met onder andere Frank Opperman, Nicole Holm, Wian Taljaard en René Cloete.

Kanya Viljoen hanteer die regie van die komediedrama Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene met Mienke Ehlers en Dean John Smith.

Deep Heat met Carin Bester en Hendrik Nieuwoudt is ‘n plekspesifieke drama en vertaling van ‘n teks deur Ashraf Jamal, vertaal en onder regie van Ilana Cilliers.

Gewilde dramas van ander feeste sluit onder andere in Danie Marais se Ek is nie Danie met Albert Pretorius en Schalk Joubert, onder regie van Nico Scheepers; asook Athol Fugard se Boesman en Lena met Veronique Jephtas, Brendon Daniels en Tshamano Sebe, onder regie van Christo Davids.

Die geleentheid vir skaterlag op die program is talryk, met ‘n keur van komedies en stand-up-vertonings. Onder die komedies tel Lizz Meiring in Die ‘Real Housewife’; Wynand van Vollenstee en Thiart Li in Geagte kampeerders; Chris Vorster in Gebou soos Steffi Graf; Marion Holm in Gryp elke grasHOLM; Holm en Dean John Smith in Kry vir jou ‘n tux; Thomas, Hannes van Wyk en Desiré Gardner in Magda Louw en haar Erhard: How Louw can you go?; Margit Meyer-

Rödenbeck in Ouma en die ou koeie; ‘n wêreldgehalte trefferkomedie Police Cops: The Original; Frank Opperman in Reünie; en Mandri Sutherland in Vrou ens. 1.2.

Die volledige program vir die 30ste KKNK is op kknk.co.za beskikbaar.

Kaartjies is te koop by die KKNK se kantoor, of op webtickets.co.za.

Vir inligting besoek kknk.co.za, skakel 044 203 8600, stuur e-pos na info@kknk.co.za of stuur ‘n WhatsApp na 065 285 2337.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article