Lientjie Mentz
Die DA het op Vrydag 14 Maart ‘n strafregtelike klag teen die Mangaung-metro se burgemeester, Gregory Nthatisi, en sy tien burgemeesterskomiteelede ingedien oor die omstrede busskandaal wat reeds jare lank sloer.
Die geïntegreede openbare vervoernetwerk-projek (IPTN) wat die metro al meer as R2,2 miljard uit die sak gejaag het sonder dat ernstige aantygings van korrupsie ondersoek word, het die DA in die Mangaung-metro nou tot aksie gedwing.

Dirk Kotzé, DA-raadslid, het bevestig die Valke en die Spesiale Ondersoekeenheid (SIU), asook onafhanklike ondersoekers, doen reeds geruime tyd ondersoek na bedrog, onregmatige kontrakte en ook die wanaanwending van munisipale geld.
Kotzé sê ná al die geld wat uitgegee is, loop net tien busse op een van drie roetes wat met die projek beoog is. Die roete is tussen Hoffmanplein, die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Tempe.
DA-raadslede het die klag Vrydag by die Parkweg-polisiekantoor ingedien.
Die klag kom nadat Nthatisi en sy komitee versuim het om vermeende misdadige aktiwiteite wat met die IPTN-netwerk verbind kan word aan te meld.
Kotzé verduidelik wetgewing dwing ‘n individu van ‘n onderneming of munisipale administrasie wat vermoed dat onwettige aktiwiteite plaasvind om dit aan te meld.
Die IPTN het ten doel gehad en is vervolgens ontwerp om openbare vervoer in die stad te vergemaklik, maar is volgens alle aanduidings van die begin af onderwerp aan onregmatige uitgawes, wanbestuur en spertye wat nie gehaal is nie.
Die destydse minister van vervoer, Fikile Mbalula, het op 11 April 2022 ‘n forensiese ondersoek na die projek aangevra.
Op 28 Februarie 2023 het die ouditeur-generaal onregmatigheid van meer as R2 miljard uitgewys rakende die ontwikkeling van die Chief Moroka-verbindingsroete.
You must be logged in to post a comment.