Bloemfonteiners kan uitsien na ’n heerlike vertoning van die plaaslike musiekgroep Valkyrie Inc. op 3 Maart by Be Human op die plaas Middelwater.
Lize-Maré Markgraaff, sanger van Valkyrie Inc, sê hulle was baie gelukkig om wonderlike vertonings in 2021 en 2022 aan te bied.
“Nou gaan ons groot met die vertoning Valkyrie Inc. Live &and Loud.
“Ons kies om minder vertonings aan te bied, maar op ’n groter skaal. Dit laat ons dan toe om ’n skouspelagtige element na die verhoog te bring.
“Ons fokus op bekende, maar meer uitdagende treffers en stel die detail in elke lied voorop. Hoewel ons ons stempel afdruk, probeer ons die oorspronklike treffers so goed as moontlik naboots. Gehore kan hulle vereenselwig met die styl en melodie, maar is tog verras wanneer hulle besef hulle sit iewers buite die Rosestad wanneer hulle die liedjie hoor.
“Die gehalte van die klank is vir ons ’n voorkeursaak.”
Sy sê Bloemfonteiners kan hulle gereed maak vir ’n lewendige vertoning, met topgehalte musiek en musikante.
Die groep musikante saam met Lize-Maré is Hanno Mol (sanger en akoestiese kitaar), Heinrich Lategan (klavier en klawerbord), Tiaan Kussman (tromme en perkussie), Dries Hymann (baskitaar en sanger) en Nico Greyling (elektriese kitaar).
Vir die vertoning by Be Human gaan die groep ook gebruik maak van twee agtergrondsangers en twee koperblasers.
Van die musiek waarna toeskouers kan uitsien, is liedjies soos “Bohemian Rhapsody”, “Final Countdown”, “Billy Jean” en ’n keurspel van Abba-liedjies.
Kaartjies vir die vertoning wat om 19:00 by Be Human begin, kos R150 en is beskikbaar op webtickets.co.za, by die Toms-musiekwinkel of by enige Pick n Pay.
- Een Bloemnuus-leser staan die kans om dubbelkaartjies vir die vertoning te wen. Besoek Bloemnuus se Facebook-blad en like die inskrywing om die kans te staan om ’n wenner te wees. Die wenners sal Vrydag (10/02) op Bloemnuus se Facebook-blad aangekondig word.