Klasmaat nie vergete

Die 1989-matriekklas van die Hoër Meisieskool Oranje het ’n kuns­trofee ter ere van hul ontslape oudklasmaat, die skilder Maricel Albertyn, aan hul alma mater geskenk.


Die 1989-matriekklas van die Hoër Meisieskool Oranje het ’n kuns­trofee ter ere van hul ontslape oudklasmaat, die skilder Maricel Albertyn, aan hul alma mater geskenk.

Die trofee is op 5 April namens die klas en vriende uit die rolprentbedryf op die skool se 117de bestaansjaarviering by die Vrouemonument in Bloemfontein oorhandig.

Leerlinge en personeellede van die hoër-, laer- en preprimêre skool, asook oudleerlinge, vier dié dag jaarliks by die monument.

Op die geleentheid word kranse ook op oudpres. M.T. Steyn, stigter van die skool, en sy vrou, Tibbie, se grafte aan die voet van die monument gelê.

Die Maricel Albertyn-trofee sal jaarliks vir die uitstaande uitbeelding van gevoel in kuns aan ’n leerling toegeken word.

Prof. Carlé Sharp en Karin Hopkinson, twee van Albertyn se oudklasmaats en vriendinne, het die oorhandiging gedoen.

Albertyn, ’n skilder in Kaapstad wat ook stelontwerp in die rolprentbedryf gedoen het, is verlede jaar in Oktober in die ouderdom van 51 aan kanker oorlede, sê Hopkinson.

Volgens Hopkinson, wat ’n skilder in Kaapstad is, was sy en Albertyn 47 jaar lank beste vriendinne.

Sharp, ’n professor in kliniese sielkunde aan die Universiteit van Houston in Amerika, het in haar toespraak op die geleentheid gesê dit is ’n trofee vir ’n leerling wat haarself vreesloos in kuns kan uitdruk.

“Maricel Albertyn was iemand wat nie net haar skool­jare met ons gedeel het nie, sy het ook haar kuns, wysheid en talente met ons gedeel,” sê Sharp.

’n Kraai en aandblomme pryk aan die trofee, omdat Albertyn se skilderye dikwels voëls en aandblomme bevat het.

“Ons hoop hierdie trofee – ons noem dit die ‘Kuns met Gevoel’-trofee, wat Maricel vereer – is vir julle ’n inspirasie vir kreatiewe vryheid; die waagmoed om jouself uit te druk en die waagmoed om jou in jou kuns uit te druk.”

You need to be Logged In to leave a comment.