’n Klavierkonsert deur leerlinge van die Paul Roos-gimnasium van Stellenbosch is die trekpleister vir die volgende Rhapsody in Bloem-konsert, wat vir Maandag 29 Julie beplan word.
Petro Engelbrecht, stigter van Rhapsody in Bloem, sê die konsert is op die program van die skool se musiektoer na Bloemfontein, wat ook ’n konsert deur die Paul Roos-orkes en -sanggroep op Woensdag 31 Julie insluit. Laasgenoemde uitvoering vind plaas in die Odeion-saal op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Die klavierkonsert in die Naval Hill-planetarium sal die talent ten toon stel van tien van die leerlinge, wat bekende werke van komponiste soos Chopin, Schubert, Schumann, Bach, Beethoven en Debussy sal uitvoer.
Die konsertprogram van 60 minute lank, wat om 18:00 begin, word aangevul met ’n sterrevertoning in die planetarium, wat beloof om ’n unieke en betowerende ervaring vir almal teenwoordig te wees.
Kaartjies is teen R80 beskikbaar en kan gekoop word deur 082-824-5507 te skakel.