Peter Dennis met van die tamaties wat hy vir die kompetisie gekweek het.Foto: Lientjie Mentz


Daar is groot afwagting in die tuin van Peter en Dalena Dennis in Hospitaalpark, waar tamaties nou flink groei om mee te ding in Bloemfontein se Reuse-tamatie-kompetisie.

Daar is reeds ’n hele paar knewels aan die vier plantjies wat hulle as deel van Bloemfonteinse tuinghoeroe Thabo Olivier se kompetisie geplant het.

Olivier het saailinge van die Mortgage Lifter-kultivar gekweek wat tot einde Desember by die Green­side-kwekery te koop was.

Die geld uit die verkoop van die saailinge is geskenk aan die Tholwana e Molemo-organisasie, wat werksessies oor voedselsekuriteit aanbied.

Die Dennis-egpaar is ywerige tuiniers en is opgewonde oor hoe goed hul reuse-tamaties groei. Die plante rank teen ’n prieel op en hul drag word nou reeds met net teen die gretige voëls beskerm.

Dalena verwerk die tamaties, asook groente soos pampoene, wat in hul tuin groei.

Deelnemers aan die kompetisie het tot 28 Maart om hul grootste tamaties te pluk en dit by die Greenside-kwekery te laat weeg om die wenner van die kompetisie te bepaal.

Die wenner word op 1 April bekend gemaak.

You need to be Logged In to leave a comment.