Die klem word op 3 September gevestig op die belangrikheid van die rol van aasvoëls in die ekostelsel.

Anel Olivier

Internasionale bewustheid oor aasvoëls word Saterdag (03/09) wêreldwyd geskep.

Wildlife ACT moedig mense aan om op dié dag weer ’n bietjie te dink aan die belangrike rol wat aasvoëls in die ekostelsel verrig – veral met dié dat hul getalle daagliks afneem.

Aasvoëls skep ekostelsels in die natuur, in landbou en in landelike gebiede.

Volgens Anel Olivier, bestuurder van Wildlife ACT se aasvoëlbewaringsprogram, veroorsaak die afname van ’n land se aasvoëls dat diersiektes toeneem en dat daar ook ’n groter voorkoms van hondsdolheid is.

Sy sê daar word gereken dat aasvoëls se getalle tussen 1993 en 2006 in Indië so dramaties afgeneem het, dat dit die ekonomie sowat $34 miljard gekos het en die nagevolge was selfs groter.

Daar word gesê dat dit ook gelei het tot die dood van sowat 50 000 mense.

Sy sê in ’n verklaring aasvoëls is die enigste aasdiere wat in sulke groot getalle aas en elke soort aasvoël het ’n unieke voedingsfunksie.

Hulle is aangepas om effektief van verrotte vleis en bene asook ander organiese afval ontslae te raak om te keer dat siektes onder wild en vee versprei. Dit hou ook die gevaar in dat siektes na mense kan versprei.

“Sonder aasvoëls, sal karkasse vir weke lank aan die natuur blootgestel word, met die gevolg dat gevaarlike siektes en bakterië sal ontwikkel.”

Wanneer ’n mens sien watter belangrike rol aasvoëls in die ekostelsel verrig, kry jy beslis nuwe respek vir hierdie besonderse voëls.

You need to be Logged In to leave a comment.