Die jaarlikse pad-en-veiligheidsveldtog van Life Rosepark-hospitaal en Shell Ultra City Pitstop, aangebied deur nooddienswerkers van die stad, is Vrydag (09/12) by Pitstop langs die N1 in Bloemfontein gehou.
Dit was vanjaar die 22ste keer dat dié geleentheid, wat dien as ’n interaktiewe bewusmakingsveldtog om mense te waarsku om tydens die Desembervakansie veilig te bestuur, aangebied is.
Op die geleentheid is vier spekbome in die tuine by Pitstop geplant ter herinnering aan nooddienswerkers wat hul lewe verloor het terwyl hulle aan diens was. Dit is gedoen deur onder meer verteenwoordigers van die polisie, brandweer, die departement van gesondheid en nooddienswerkers.
’n Plaat van herinnering en klok ter viering van Wêreldherinneringsdag (World Remembrance Day) wat jaarliks op 3 November gevier word, is ook deur die LUR vir gesondheid, Montseng Tsiu, onthul en sy het die klok gelui om die vakansietyd aan te kondig.
Julius Fleischman van Vrystaat-nooddienste het ’n demonstrasie gelewer oor die skade wat motors se lugsakke kan veroorsaak as bestuurders en passasiers nie reëls nakom nie.
Hy het eers gewys wat gebeur met ’n kind op die passasier links, voor, se skoot – veral as die passasier nie ’n veiligheidsgordel aan het nie.
Hy sê dit is uiters belangrik dat ’n kind nooit op iemand voor in die motor se skoot sit nie. Kinders moet agter sit en met veiligheidsgordels vasgemaak wees. Hy sê mense moet ook onder geen omstandighede ’n babastoel op die voorste passasiersitplek vasmaak nie, omdat die lugsak die baba ernstig kan beseer.
Fleischman het ook gewys wat gebeur met die bestuurder as hy of sy nie ’n sitplekgordel dra nie en baie naby aan die stuurwiel sit wanneer die lugsak ontplooi.
Hy het gewaarsku dat mense en nooddienswerkers op ’n ongelukstoneel waaksaam moet wees wanneer hulle hulp aan die bestuurder verleen as die lugsak nie oopgemaak het nie.
Tsiu het op die geleentheid gesê die department van gesondheid gaan in die vakansietyd die polisie en verkeersdepartement by padversperrings langs die hoofweë bystaan.
Sprekers op die geleentheid het vakansiegangers ’n veilige feestyd toegewens, maar gewaarsku dat mense veilig moet bestuur en altyd die padreëls moet nakom.