By die bekendstelling van Die Anglo-Boereoorlog in Kleur is van links Max van Vuuren, MC Heunis en Tinus le Roux.Foto: Lientjie Mentz


Die Oorlogsmuseum van die Boere­republieke spog met ’n groot versameling kleurfoto’s van die Anglo-Boereoorlog.

Tinus le Roux, samesteller van die boek Die Anglo-Boereoorlog in Kleur, het op Dinsdag 17 Mei sy versameling ingekleurde foto’s met kopiereg aan die museum geskenk.

Altesaam 411 oorlogsfoto’s, wat Le Roux met behulp van Photoshop ingekleur het, verskyn in die boek.

Volgens dr. Johan van Zÿl van die museum, wat met Le Roux oor die boek gesels het, gee kleur ’n heel ander dimensie aan die soms bekende foto’s.

“ ’n Mens sien skielik klein detail raak wat in die swartwit-foto’s onsigbaar was.”

Le Roux sê hy stel van kleins af in die oorlog belang. As seuntjie het hy op sy oupa se plaas by Belfast, waar daar tydens die oorlog ’n Britse kamp was, na patroon­doppies en knope gesoek.

Jare later, toe hulle in Newcastle in KwaZulu-Natal gewoon het, het hy graag slagvelde besoek.

Hy het hy ’n tyd lank in die wapenbedryf gewerk, en daar is sy belangstelling in wapentuig en oorloë verder gekweek.

In 2013 het hy as tydverdryf begin om oorlogsfoto’s in te kleur en op Facebook te plaas. Hy het gou besef dat mense daarin belang stel.

Die Oorlogsmuseum het sy versameling foto’s tot Le Roux se beskikking gestel, en hy het foto’s van oor die wêreld heen ontvang.

“Ek werk net met skerp en duidelike foto’s,” sê hy oor die foto’s wat in die eerste van twee boeke opgeneem is.

“ ’n Mens moet onthou dat die Anglo-Boereoorlog die eerste oorlog is waarin fotografietoerusting vrylik beskikbaar was – daarom dat dit so goed op foto’s vasgelê is. Mense stel in hul voorsate belang, en foto’s bied ’n kosbare kleinood van voorgeslagte se ontberinge tydens die oorlog.”

Van Zÿl meen die historiografie van die oorlog word met die kleurfoto’s verbreed. Le Roux het reeds sowat 720 swartwit-foto’s van die oorlog ingekleur, en beplan ’n tweede volume waarin hy ander aspekte van die oorlog sal probeer vasvang. Dit sal foto’s van vroue en kinders in die konsentrasiekampe insluit.

“Die emosies en gesigsuitdrukkings kom soveel duideliker na vore as die foto’s in kleur is.”

  • Ná ’n kort bespreking van die boek het MC Heunis, lid van die Militêre Versamelaarsvereniging, ’n praatjie gelewer oor die kleredrag en wapentuig van onder meer die Boerekrygers en spesifiek die Gordon Highland-infanterie se kleredrag aan die begin van die oorlog. Die Anglo-Boereoorlog in Kleur is by die museum en Exclusive Books beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.