Die verfprojek het op 30 April begin. Foto: Verskaf


Nadat vrywilligers op Saterdag 30 April die pilare van die brug onder Benaderylaan kleurryk geverf het, wil dié groep die projek verder neem.

Kunstenaar Liesel Wessels nooi mense om verf en kwaste te skenk en Saterdag (04/06) te kom help verf.

“Ons wil soveel gemeenskapslede moontlik kry om aan die projek deel te neem,” sê sy.

“Mense kan oorskietverf en kwaste stuur. Wat ons nie gebruik nie, sal ons vir ander projekte gebruik of selfs vir die kinderhuis skenk.”

Mense gaan versoek word om Saterdag ’n hartjie, driehoek of vierkant in helder kleure te verf.

“Elke kwashaal en verfstreep simboliseer hoop, liefde of drome oor Bloemfontein.”

Sy wil onder andere professionele muurkunstenaars soos Marius Jansen van Vuuren betrek.

Sy hoop dié projek sal ’n nuwe baken vir die stad skep.

“Ons idee is dat die oorbrug ’n plek kan raak waar fotograwe mooi foto’s kan kom neem, veral as die weer nie altyd saamspeel nie. Dit kan ’n lekker toerisme-aantreklikheid word, of ’n plek waar inwoners selfies kan gaan neem.”

Wessels sê AfriForum het baie gehelp om die omgewing om die oorbrug skoon te maak.

“Hulle skenk ook vir ons ’n raamwerk sodat ons hierdie keer ’n bietjie hoër kan verf.”

AfriForum sal ook help om ’n veilige omgewing te skep terwyl mense verf.

“Ons hoop die kuns verhoed mense om weer hul vullissakke hier te kom aflaai.”

  • Mense kan van 09:00 tot 13:00 aan die projek in Montgomerystraat tussen Wilgehof en Gardeniapark deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.