Kleurryke klein draers van hoop verras op lewenspad

Toe ek onlangs alleen die langpad vat na Stilbaai, besef ek opnuut waarom ek dit altyd so geniet – die oënskynlike niks op en langs die pad kry dit reg om my hart vol te pak met herinneringe wat inderdaad van ver af kom. Skuins voor Edenburg begin, s


Toe ek onlangs alleen die langpad vat na Stilbaai, besef ek opnuut waarom ek dit altyd so geniet – die oënskynlike niks op en langs die pad kry dit reg om my hart vol te pak met herinneringe wat inderdaad van ver af kom. Skuins voor Edenburg begin, soos altyd, die groot onthou. Ek dink weer aan klein Madelein. Ses jaar oud, die jongste in die koshuis in die dorp.

En ek, bloedjonk en grasgroen in die onderwys, sit op ’n Woensdagmiddag weer met haar op my skoot in die voorportaal – ’n klein meisie vir wie die tien sent in die tiekieboks plaas toe, moet troos. Vrydag is nog net twee dae ver…

Ek oornag in Graaff-Reinet en staan laatmiddag kaalvoet saam met die gastehuis se eienaar buite in die reën. Ons luister na ’n groepie kinders wat opgewonde sing oor die water wat redding bring.

Vroegoggend ry ek verder en naby Willowmore oorval ’n gevoel van onregverdigheid my toe ek die leë Beervleidam verbygaan. Geen spoor van water nie. Selfs die karoo­bossies hang, en ek weet reënverlossing is lanklaas hier beleef.

Buite Aberdeen hou ek stil by ’n padstal met die naam “Kapoet”. Ek vind lafenis by ’n vrolike jong kind wat, voordat ek vir water vra, ’n glas yskoue gemmerbier in my hand kom druk: “Hier vergéét ons van die droogte, Tannie. Ons wéét mos die reën is op pad!”

Saterdagmiddag by die see sien ek ’n paar kinders kranse vleg in die parkie langs die kafee. Ek staan nader, en die een vertel dat hulle Valentynsblomme regkry vir die oumense wat alleen in die dorp bly.

Op die pad terug deur die Suid-Vrystaat, dink ek weer aan die matriekklas van byna 40 jaar terug. Koshuiskinders vol kattekwaad, plesier voor plig, môre is mos nog ’n dag. Hulle het ’n legio paniekaanvalle verseker – hoe gaan ek ooit hierdie kinders deur Duits kry?

Ek glimlag toe ek ’n ent verder die kleurige bord langs die pad in die niks sien staan – “Curios and Jam”. Soos die kinders, wat sedert donkiejare terug so dikwels my pad kom kruis het, ’n spatsel hoop op die vlakte van moedverloor. Klein Madelein, van soveel dapperheid aanmekaargesit, James en Marius, rokerskonings van die koshuis; een ’n polisieman, die ander een prokureur in Bloemfontein vandag. Die koortjie in die Karoo wat luidkeels dankie sê vir reën, die kind wat hoop en geloof saam met ’n glas gemmerbier in jou hand kom druk. Die tieners wat liefde in ’n krans invleg vir eensame oues in hul dorp.

Ek draai weg van die snelweg, amper tuis. En ek dink vir oulaas aan nog ’n bord, die een met die woorde “Occasional Snowfall” op die Lootsbergpas. En ek dink aan ons kinders van vandag – soms voortvarend, oënskynlik onverantwoordelik, maar tog so interessant, waaghalsig, dapper en verrassend, soos ’n son­verweerde bord in die middeldroogte van die Karoo wat jou waarsku teen sneeu.

Ek glimlag, ek het weer hoop; want ek wéét, soos die kind van Kapoet, dit gaan binnekort reën.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.