Die jeugforum van Ons Kinderhuis help nou om ’n prettige kleurwedloop vir Maandag 25 September te reël.
Lushen Lewis, ’n vierdejaar-student in maatskaplike werk aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het as deel van haar gemeenskapsprojek met die forum hande gevat om die geleentheid te reël.
“Ons wil met die geld wat met die geleentheid ingesamel word verjaardaggeskenke vir die kinders van Ons Kinderhuis koop,” sê Lewis.
Deelnemers kan hulle op die dag van die wedloop om 07:00 by die Brandkop parkrun-terrein in Pellissier registreer. Inskrywing kos R30 en deelnemers moet verkieslik kontant bring.
Deelnemers spring om 08:00 weg en het tot 10:00 om die pretloop van 5 km klaar te maak.
Die 11 lede van die jeugforum sal langs die roete staan en kleurryke verfpoeier oor die deelnemers gooi om ’n vrolike reënboog te skep.