Kleuter sterf op treinoorgang

’n Kleuter (2) is vanoggend ongeveer 08:15 op die toneel dood toe hy en sy ma die treinspoor in Paperstraat in Heidedal gekruis het en voor ’n aankomende trein beland het.


’n Kleuter (2) is vanoggend ongeveer 08:15 op die toneel dood toe hy en sy ma die treinspoor in Paperstraat in Heidedal gekruis het en voor ’n aankomende trein beland het.

Pieter du Plessis, woordvoerder van VR Med, sê die inligting wat hulle het is dat die ma met die baba in ’n stootwaentjie die treinspoor oorgesteek het, toe hulle deur die trein getref is.

Die ma is uit die pad geslinger, maar die baba is op die toneel oorlede. Die ma het nie ernstige beserings opgedoen nie.

Johnny Jansen, voorsitter van Heidedal se GPF, sê die gemeenskap is baie bekommerd oor daardie kruising omdat daar al talle noodlottige ongelukke plaasgevind het. Hy sê baie werkers wat in Nuwe Ooseinde en Ooseinde werk, steek daagliks dié kruising te voet oor.

“Ons vergader Vrydag en sal met raadslede en ander belanghebbendes gesels om te kyk of ons nie oplossings kan vind om die kruising veiliger vir inwoners te maak nie.”

Hy sê die ideaal is dat daar ’n oorbrug oor die treinspoor gebou word waar mense veilig die treinspoor kan oorsteek.

Du Plessis sê VR Med, ER24 sowel as lede van die polisie en veiligheidspersoneel van Transnet was gou op die toneel.

Die saak word deur die Heidedal-polisie ondersoek.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.