By die ABBA-kleuterskool in Heidedal is van links Annette Viljoen en Rudolph Delport (albei van die Orangia-rolbalklub), Marochelle Abrahms (vyfjariges), Aria Berries (skoolhoof), Arezona Fray (vierjariges) en Aneesa van Wyk (driejariges).Foto: Verskaf


Lede van die Orangia-rolbalklub het ’n groot hoeveelheid skryfbehoeftes ingesamel en op Woensdag 29 Januarie aan die ABBA-kleuterskool in Heidedal oorhandig.

Die skool, bygewoon deur kleuters tussen drie en ses jaar oud, is grootliks aangewese op selffinansiering en skenkings vir sy voortbestaan.

Die klublede het inkleur-, uitdraai- en vetkryte, skêre, inkleurboeke, verf, gom en papier geskenk.

Tydens die oorhandiging hiervan het die president van die rolbalklub, Rudolph Delport, gesê dat dit ’n voorreg vir Orangia is om die bydrae tot die kleuterskool te lewer en sodoende die kleuters in staat te stel om hulle voor te berei vir die “groot skool”.

Die skoolhoof, Aria Berries, het met die ontvangs van die skenking haar dankbaarheid uitgespreek vir die ruim bydrae tot die ontwikkeling van die kinders se vaardighede.

Die skool sou nie die skryfbehoeftes kon bekostig nie en het groot waardering vir die skenking.

You need to be Logged In to leave a comment.