Perle du Plessis en Linkie Bessinger met die boek waaraan hulle saam gewerk het.Foto: Lientjie Mentz


Die kleuters van Bambi Pre-Primêr in Westdene was nogal geskok toe hulle hoor dat Kersfees gekanselleer word.

Gelukkig was Dinky die Donkie gereed met nuwe, Afrika-planne om Kersfees te red.

Perle du Plessis, ’n mamma van drie, het haar nuutste boek Kersfees word gekanselleer Vrydag 23 November aan die kleuters by dié kleuterskool voorgelees.

Linkie Bessinger, ’n joernalis van Netwerk24 wat kuns as stokperdjie beoefen, het saam met Perle gewerk om dié kinderboek te illustreer.

Die boek is die eerste in ’n reeks van drie genaamd Planne en pret met Dinky die Donkie. Dit volg op Perle se reeds van vier boeke Die Avonture van Skapie-Mê.

Perle, ’n rekenmeester en risikobestuurder wat by die Universiteit van die Vrystaat (UV) werk, het al jare daaroor gedroom om haar eie boeke te skryf, maar dit was eers in 2021 dat sy die planne in haar kop in woorde neergepen het.

“Hierdie is net die eerste avontuur van Dinky,” sê sy. “Ek hoop dat julle nog baie avonture saam met my en Dinky sal geniet,” sê sy vir lesers.

Linkie teken al van skool af graag, maar doen gewoonlik meer abstrakte kuns. “Dit was heerlik om saam met Perle te werk aan Dinky,” vertel sy. “Ek het met my neus in boeke grootgeword en ek hoop dié boek sal kinders ook boei soos die boeke van my kinderdae.”

Sy het die sketse vir die boek op ’n tablet gemaak, wat haar baie meer vryheid gegee het om elke illustrasie te kry soos sy dit wil hê.

Kersfees word gekanselleer is by Storie Huis in Genl. Cronjestraat te koop.

Drie lesers staan die kans om elk ’n kopie van die boek te wen. Besoek Bloemnuus se Facebookblad, like die blad en like dan die inskrywing oor die boek. Hou Bloemnuus se Facebookblad dop om te sien wie die wenners is!

You need to be Logged In to leave a comment.