Klikkende breipenne bring vreugde

Dinsdae is dit ’n vrolikheid by die Striata-aftreeoord in Universitas wanneer vroue byeenkom om met vlytige vingers handwerk te doen.


Isa Bruwer (links, 69) en Emma Botha (middel, 82) by Engela van der Merwe (79) en haar borduurwerk.Foto’s: Lientjie Mentz

Dinsdae is dit ’n vrolikheid by die Striata-aftreeoord in Universitas wanneer vroue byeenkom om met vlytige vingers handwerk te doen.

Sommige brei, sommige hekel; daar is selfs vroue wat diamond-dot-werk en borduurwerk doen vir die weeklikse Babbel en Brei-byeenkomste.

Trynie de la Rey sê sy wou graag verlede jaar in Februarie hê iemand moes help om komberse te brei vir liefdadigheid. Sy het uitgevind daar is sommer heelwat flukse vroue by Striata, en só het die klub ontstaan.

Met Louisa Denner, ’n raadslid van Striata, aan die voorpunt, kom vroue soos Sarie Visser elke week na die klub se byeenkoms om saam in ’n gesellige omgewing handwerk te doen. Visser (84) brei mussies en kombersies. Sy het 16 jaar lank ’n stalletjie by die Langenhovenmark gehad waar sy gebreide kousies verkoop het.

Martie Laubser (76) brei al 21 jaar lank. Sy sê selfs toe sy nog gewerk het, het sy in die middagete-uur gebrei aan allerlei artikels soos mussies.

“Dit is vir my baie terapeuties,” vertel sy.

Rina le Roux se kunswerke.Foto: Lientjei Mentz

“Selfs al sit ek voor die TV terwyl daar ’n fliek speel, luister ek terwyl ek brei en my hande besig hou.”

Engela van der Merwe het 15 jaar gelede ’n baie mooi borduurprent gekoop, en sy werk gereeld daaraan.

De la Rey sê die vroue het al komberse vir inwoners van Jade-huise gebrei en ook al vir ander liefdadigheidsinstellings skenkings gedoen.

“Ons het ook al mussies en babakomberse gebrei vir die vroeggebore babas by die Universitas- Akademiese Hospitaal. Sulke skenkings kom uit ons hart uit.

“Die groep het begin as ’n brei-projek, maar intussen het soveel ander kunsvorme deel van ons oggendsessies geword.”

Rina le Roux maak waterverf-kunswerke. Sy verf graag kaartjies wat ander inwoners gebruik om familie en vriende op unieke wyse geluk te wens.

Denner sê dit is lekker om die vroue op so ’n kreatiewe manier byeen te kry.

“Dit help dat sommige van die vroue ’n bietjie uit die huis kom en gesellig verkeer rondom iets wat hulle geniet.”

Martie Laubser (76) brei graag blokkies aanmekaar om komberse te maak. Sy brei al 21 jaar lank.Foto: Lientjie Mentz

You need to be Logged In to leave a comment.