Die gemeente van die NG kerk Bloemfontein-Noord, ook bekend as die Klipkerk, leef sorg en omgee uit deur hande te vat met die Engelse Andrew Murray-gemeente. Hierdie twee kerke het saamgesmelt, en die Klipkerk maak van Februarie af geskiedenis deur ook ’n Engelse diens te bied.
Dit het vir die Andrew Murray-gemeente geldelik onmoontlik geword om onafhanklik voort te bestaan. Die diverse groep lidmate van Andrew Murray sou geen heenkome gehad het, was dit nie vir hierdie samesmelting nie. Die Klipkerk se kerkraad het sterk daaroor gevoel om hulle by te staan en om vir die gemeente ’n toekoms te probeer behou.
“Die samesmelting bied ook die geleentheid vir die kerk om uit te brei en sodoende meer mense te bedien,” sê Lindsay Mould, hoofouderling.
“Ons is opgewonde daaroor om die koninkryk van die Here verder saam met ons nuwe bediening uit te bou,” sê ds. Tano Bongers, leraar van die Klipkerk, op sy beurt.
Reeds in 2023 het dr. Charles Mitchell van die Andrew Murray-gemeente die Klipkerk se raad genader in verband met die moontlikheid daarvan om sy gemeente ’n wyk van Klipkerk te laat word, aangesien dit geldelik onmoontlik geword het om voort te bestaan.
Die kerkraad het eenparig besluit om die Andrew Murray-gemeente by te staan so ver as moontlik.
Die oplossing waarop ooreengestem is, is dat die lidmate van Andrew Murray met dié van die Klipkerk verenig. Die Klipkerk se twee predikante sal om die beurt elke Sondag ‘n ekstra diens in Engels waarneem, aangesien Mitchell einde Januarie afgetree het.
”Daar is in die NG Kerk formuliere vir die huwelik, doop, nagmaal, begrafnisse en belydenis van geloof. Daar is egter nie in die Handleiding van die Erediens ’n formulier vir só ‘n geleentheid soos hierdie nie,” sê Bongers.
Om dié rede het hy die eerste diens met die boodskap ”een liggaam met baie lede” (1 Kor. 12:12-27) geopen.
“Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het – en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm – so is dit ook met die liggaam van Christus. Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop,” het die boodskap gelui wat hy gedeel het.
Daar is nou drie dienste by die Klipkerk: ’n gesinsdiens om 09:00 in die sentrum waar gesinne met jonger kinders bedien word; ’n erediens om 10:00 in die kerk; en van Februarie af word ‘n Engelse diens om 09:00 in die kerk se ouditorium gehou. Enigeen kan dit met vrymoedigheid bywoon.
Rig navrae deur die administratiewe beampte, Maggie Jacobs, by die kerkkantoor by 051-448-1419 te bel. Meer inligting is op die Facebook-blad @Klipkerk Bloemfontein-Noord beskikbaar.