Klop hier aan vir oulike pophuis-pronkstukke

Een van die uitstallers by Saterdag (03/09) se Franse Mark, is Nerine Steenkamp, wat uitsonderlike pophuise en pophuismeubels maak.


Daar is Saterdag (03/09) weer ’n wye verskeidenheid uitstallings op die Franse Mark by Villa Avianto in Kwaggafontein.

Een van die uitstallers is Nerine Steenkamp, wat uitsonderlike pophuise en pophuismeubels maak.

Topsy Tuis het vroeg in 2022 begin as ’n passie-projek met groot drome.

“Ek het nog altyd ’n liefde vir kleur en mooi ontwerp gehad en is baie lief daarvoor om kreatief te wees en goed te maak,” vertel Nerine.

“As kind het ek gereeld pophuise uit karton gemaak en nooit uitgekom by ‘speel’ nie. So natuurlik het ek ná skool argitektuur by Kovsies gaan studeer.”

Nerine sê sy het gou, nadat sy haar graad verwerf het, besef dat sy nie hou van die vinnige pas van die korporatiewe wêreld nie.

“Gelukkig het ek by iemand beland met haar eie klein besigheid, en dit het vir my die droom gegee om ook eendag my eie besigheid te begin.

“Jare later het ek uiteindelik die kans om hierdie avontuur aan te pak. Presies waar die idee vir pophuise en pophuismeubels wortel geskiet het, kan ek nie sê nie. Dit is ’n idee waarvan ek stadigaan al hoe meer gehou het. Al wat ek weet, is dat dit my verskriklik opgewonde maak. Daar is nog baie wat ek moet leer, maar ons vat dit een mark op ’n slag.”

Haar hooffokus is om handgemaakte meubels van goeie gehalte teen ’n skaal van 1:6 te maak, maar sy maak ook pophuise op bestelling.

“Dit is vir my lekker om ekstra speel-elemente in te bou, soos ’n kombuiskraan met regte water wat uitloop. Ontwerp en kleur is ’n groot prioriteit vir my. Dit moet vir ’n mamma ook lekker wees om te kyk na die pophuis wat so baie plek in haar huis inneem, terwyl dit ure se genot vir haar kind kan bied.”

Die mark begin om 08:00 en duur tot 15:00. Die Spice Walk-pretstapgeleentheid begin om 09:00.

Toegang kos R30. Kinders van gr. 1 tot gr. 7 betaal R10. Toegang vir kinders jonger as ses jaar is gratis. 
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.