Mense van ouderdom 45 tot 49 jaar en ouer is in die hoogste risiko-kategorie om kardiovaskulêre probleme te ontwikkel.
Volgens eise wat by Momentum Life Insurance in 2021 ontvang is, is 20% van sterftes veroorsaak deur kardiovaskulêre siekte.
Dit is volgens Momentum Multiply wat van lede verwag om met sy Healthy Heart Score te bepaal hoe gesond hul hart is. Die maatstaf kyk na jou liggaam-samestelling wat jou lengte, gewig en omtrek van jou middel insluit, asook jou bloeddruk, glukose, cholesterol en rookstatus.
’n Gesonde hart is afhanklik van ’n gesonde leefstyl.
Marcia Eugenio van Momentum Multiply, sê daar is ’n paar leefstylgewoontes wat jy kan toepas om te verseker dat jy op pad is na ’n gesonder hart.
Dieet
Eet meer groente en vrugte. Dit bevat heelwat vitamine en minerale wat jou kan help om hartsiektes te voorkom. Probeer minder rooivleis eet wat baie versadigde vette bevat wat jou cholesterolvlakke kan verhoog.
Oefening
Beweeg gereeld om jou hart sterker te maak, jou bloeddruk te verlaag en om die risiko van hartsiekte te verminder. Oefen ten minste drie tot vier keer per week vir 30 minute.
Alkohol
As dit die gebruik van alkohol kom, is matigheid die wagwoord. Moenie meer as een tot twee drankies per dag drink nie en dit is verkieslik om elke week ’n paar dae lank geen alkohol te drink nie.
Stres
Angs, depressie en kommer kan jou risiko om hartprobleme te ontwikkel, dramaties verhoog. Bestuur jou geldelike stres deur behoorlik te beplan. Jy kan ook stres by die werk verlig deur te oefen en ontspanningstegnieke toe te pas.
Slaap
Dit is vir ’n gesonde liggaam, leefstyl, verstand en hart die beste as jy genoeg slaap inkry. Slaap ten minste sewe tot agt ure per nag. Moenie voor jy slaap op jou foon rondspeel nie – dit hou jou brein besig en maak dat jy moeiliker aan die slaap raak.
Rook
Almal weet rook is sleg vir jou hart en byna elke orgaan in jou liggaam. As jy nog nie opgehou rook het nie, oor weeg dit. Onthou ook dat tweedehandse rook gevaarlik vir jou is.
As jy hierdie stappe toepas, kan jy jou gesondheid dramaties verbeter. Moedig ook jou gesinslede aan om gesonder gewoontes toe te pas.