Kloppers in Bloemfontein.Foto: Lientjie Mentz


Vandag 55 jaar gelede het Willem Klopper die deure van die gewilde Kloppers in Bloemfontein oopgemaak.

Nou is die groep meer as ooit ’n familie-onderneming, waar wyle Willem se kinders en talle klein­kinders aan die stuur van sake staan en die groep na hoër hoogtes neem.

Dit is ’n groep wat vir uitstekende kliëntediens bekend is.

Die oorspronklike winkel, wat bekend was as ’n kortingwinkel met ’n wye verskeidenheid produkte, is op 15 September 1967 geopen.

“My pa se visie was om beter pryse te bied aan mense wat kontant betaal,” sê Steva Klopper, een van die direkteure.

Die winkel is in 1981 na die middestadsentrum geskuif, waar Greatermans eers was.

Die hooftak was later in die ou OK Bazaars-gebou op die hoek van Maitland- en Fichardtstraat, en in 1995 is takke by Senwes en College Square oopgemaak.

In hierdie tyd het ál ses broers – Steva, Willem, Leon, Wouter, Anton en Dirk – tesame met Filip Naude deel van Kloppers geword.

Kloppers se takke het in 2002 gekonsolideer met ’n winkel van 17 500m² handeldrywend waar dié hooftak vandag in die Loch Logan-waterfront is.

Intussen het ander baie opwindende verwikkelinge plaasgevind.

Kloppers-winkels is in 2005 in George en in 2006 in Knysna geopen, met Willem en Willem jr. aan die stuur van sake. ’n Winkel met Michael, Steva se seun, aan die stuur is in 2015 in Gqeberha geopen

Wouter jr. en Dirk bestuur die Kloppers Sport en Buite­lewe-winkel, waarvan takke in 2018 in Kaapstad en in 2019 in Stellenbosch geopen is.

Die nuutste van dié winkels is op 1 September in Somerset-Wes geopen.

Wouter se seun, Wiehan, is in beheer van Kloppers se aanlyn verkope.

Steva sê Kloppers is meer as net ’n familie-onderneming.

“Ons as familie is al 38 jaar by die groep betrokke, en ons werk lekker saam.

“Ons sien ook personeel as deel van ons uitgebreide familie – en net soos ons geleenthede vir ons kinders skep, wil ons ook vir personeel se kinders geleenthede skep.”

Daar werk nou reeds ses klein­kinders by Kloppers, en Steva sê die groep het altesaam 550 personeel­lede.

“My ma, Skat, is nou 91 en sy stel nog baie belang in die bedrywighede van Kloppers.”

Steva sê Kloppers is deel van die gemeenskappe waarin dié winkels is.

“Ons wil vir almal ’n goeie lewe skep en ’n positiewe bydrae maak in die gemeenskappe waarin die winkels is,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.