Willie Schoeman (links), tot nou afrigter van Michiel Kruger (regs), wêreldkampioen en tien­malige Suid-Afrikaanse kampioen in rolbal vir gesiggestremdes, is ingesluit in die viertal wat Saterdag (14/01) in twee vertoonwedstryde tydens Orangia se eeufeesviering gaan deelneem.Foto: Lientjie Mentz


Twee rolbalkampioene is betrokke by die Orangia-rolbalklub se eeufeesvieringe, wat Saterdag (14/01) plaasvind.

Die klub, slegs die tweede in Bloemfontein wat dié mylpaal bereik, vier vandag (12/01) sy 100ste bestaansjaar. Slegs die Bloemfontein-rolbalklub is ouer.

Twee kampioene wat eregaste tydens die feesvieringe is, is Gerry Baker, ’n voormalige lid van die klub wat na Johannesburg verhuis het en groot hoogtes in rolbal bereik het; asook wêreldtitelhouer en tienmalige Suid-Afrikaanse rolbalkampioen, Michiel Kruger.

Kruger is ingesluit in die Suid-Afrikaanse span wat in Maart aan die Internasionale Gesiggestremde-rolbalvereniging (IBBA) se kampioenskap in Australië gaan deelneem.

Baker het 18 Suid-Afrikaanse meesters-enkelsmedaljes verower, waarvan vyf goue medaljes – dieselfde prestasie as die legendariese Doug Watson. Hy is in 2020 as direkteur van die wêreldrolbalvereniging verkies.

Hy het Suid-Afrika al ses keer in die Statebond­spele en in ses wêreldkampioenskappe verteenwoordig en het al medaljes in alle dissiplines van rolbal ingeoes.

Hy speel die afgelope 30 jaar vir die provinsiale ope span van die Johannesburgse Rolbalvereniging (JBA) en is die afgelope 27 jaar die kaptein. Hy het erelidmaatskap van die JBA ontvang in erkenning vir sy bydrae tot rolbal in Gauteng. Hy is lid van die Morningside-buiteklub.

Kruger het verlede jaar die tiende keer agtereenvolgens goud gewen in die enkelspel van die Suid-Afrikaanse rolbalkampioenskap vir gestremde sportlui.

Dié twee kampioene, saam met Kruger se afrigter, Willie Schoeman, en Hertzog Meiring – self ’n Proteaspeler – gaan as span in twee wedstryde meeding – een teen ’n Orangia-uitnodigingspan en ’n tweede teen ’n Suid-Vrystaat uitnodigingspan.

Hennie Stander, president van die Orangia-rolbalklub, sê ’n feestelike naweek word beplan om die eeufeesvieringe te vier. Dit sluit ’n rolbalkompetisie en spogdinee in.

Hy sê sover bekend is dit die eerste keer dat gewone Protea-spelers saam met ’n gesiggestremde Protea-speler meeding teen uitnodigingspanne met provinsiale kleure.

Op die spogdinee sal verskeie eregaste verteenwoordig wees, soos David Hamer, vise-president van Rolbal Suid-Afrika. Die presidente van talle Suid-Vrystaatse klubs, lede van die Suid-Vrystaatse Rolbal­bestuur en lede van Orangia is na die geleentheid genooi. Verskeie kunstenaars sal optree.

“Ons as bestuur kyk met trots terug oor die prestasies van die afgelope 100 jaar en wil voortbou om die klub ’n groter baken van dié wonderlike spel te maak,” sê Stander.

You need to be Logged In to leave a comment.