So stil-stil het die The Good News Club in Langenhovenpark die afgelope jaar wondere verrig om dié woonbuurt netjies te maak.
Gert Duvenhage sê die idee het begin toe hy in Augustus 2020 elke oggend voor werk rommel in CM van den Heeverpark in dié woonbuurt opgetel het.
In 2021 het hy en nog ’n paar inwoners besluit om ’n nie-winsgewende maatskappy te stig om die woonbuurt te verfraai en netjies te laat lyk.
“Ek werk in die eiendomsbedryf en dit is baie sleg om met kliënte deur die buurt te ry as dit slordig is,” sê Duvenhage oor die ontstaan van The Good News Club (TGNC).
“Ons fokus is daarop om positief te wees en om projekte volhoubaar te doen.”
Duvenhage sê hoewel die netheid van openbare ruimtes die Mangaung-metro se verantwoordelikheid is, wil inwoners van Langenhovenpark in ’n mooi buurt woon.
Die groep het intussen verantwoordelikheid geneem vir die netheid van drie parke, asook ander openbare ruimtes. Saam met AMC en Anchor of Hope het TGNC al 250 slaggate in die strate in dié woonbuurt opgevul.
“Ons het op ons Facebook-blad skenkings gevra om die teer te koop, en sommer vinnig het ons R22 000 op dié manier ingesamel.”
Met die 42 lede wat hulle reeds aangesluit het en ’n geldelike bydrae lewer, asook skenkings wat ontvang word, is twee werknemers heeltyds aangestel om die openbare ruimtes skoon te maak. Hoe meer lede hulle egter aansluit, hoe meer kan die bestaande projekte volhoubaar voortgesit word. Duvenhage sê die doel van die klub is om op te bou en nie te kla nie.
“Dit is lekker om te sien hoe inwoners weer die parke gebruik.”
Van die suksesvolle projekte wat die klub – soms met die bydrae van ander instansies – voltooi het, sluit in:
- die rehabilitasie en onderhoud van die tuin by die biblioteek in Boerneefstraat;
- die rehabilitasie, regmaak en skoonmaak van die posbusse saam met onder meer AfriForum om misdadige invloede daar weg te hou;
- die oprigting van ’n heining om die posbusse;
- die onderhoud van parke en die sny van gras in Dirk Oppermanstraat, Mikrostraat en die park op die hoek van Totius- en Henriette Grovestraat;
- die herstel van slaggate in Langenhovenpark se besigste strate, veral die verlenging van Totiusstraat wat na Universitas lei;
- die oorverf van verkeerstrepe in die woonbuurt se belangrikste kruisings; en
- die herstel van stormwaterslote in samewerking met Raubex.
Donderdag (07/07) is die breë sypaadjie langs Jan Spiesrylaan met randsnyers netjies gemaak.