Daar is die afgelope maande hard gewerk aan die Fichardtpark-sportklub se geriewe.
Lucy van Vuuren van Luvane Bootcamp, saam met ander mense wat verskillende aktiwiteite by die sportklub aanbied, het begin om die hulp van ondernemings te vra om die geboue hier op te knap.
“Dit behoort aan die Mangaung-metro, maar uiteindelik is dit die publiek wat die geriewe hier gebruik. Ons het danksy hulp van mense soos Salome le Roux en Mariette Bezuidenhout ondernemings en organisasies soos die Fichardtpark-woonbuurtvereniging (FWA) en Hospitaalpark-woonbuurtvereniging genader om ons te help met opknappings,” verduidelik Lucy.
Mure en bane is intussen geverf, ’n saal wat uitverhuur kan word is opgeknap en die FWA het hard gewerk om die terrein rondom die sportklub netjies te maak.
Die klub bied op Saterdag 22 Februarie ’n opedag aan om al die geriewe hier aan die publiek bekend te stel.
Van die aktiwiteite wat hier beoefen word, sluit in pickleball, ’n gimnasium, pluimbal, ’n oefenbof, ’n amateur-stoeiklub, judo, radiobeheerde resiesmotors en ’n “boot camp.”
Die publiek word genooi om van 09:00 tot 12:00 by die klub te kom inloer.