Klub nooi ander na kampeer-pret

Een keer ’n maand kuier hulle ’n naweek lank in die veld, omring van rustigheid en vars lug.


Een keer ’n maand kuier hulle ’n naweek lank in die veld, omring van rustigheid en vars lug.

Die Karavaanklub van Suidelike Afrika in die Suid-Vrystaatstreek bied vir lede gereelde ontvlugting na kampeerplekke rondom Bloemfontein.

Charl Carelzen, voorsitter van die plaaslike klub, sê hulle beskou hulself deesdae as ’n kampeerklub, eerder as ’n woonwaklub.

“Dit is nie meer vir almal moontlik om ’n woonwa te koop of selfs te sleep nie. Almal kan egter in hul tente saam met ons kampeer en deel in die pret.”

Hy sê hulle fokus veral op gesinne met kinders.

“Ons programme bied vir die hele gesin die geleentheid om te ontspan, maar ook om saam te kuier, kos te maak en met speletjies ’n bietjie pret te hê.”

Die plaaslike klub het van 23 tot 25 Augustus by River of Joy buite Glen gekampeer en die eerste lekker naweek van die lente op dié manier beleef.

Een van die kampeerders op daardie naweek was oom Awie Fourie, wat reeds 100 kampe agtereenvolgens bygewoon het. Hy is ook die tesourier van die klub.

“Hier raak ons hegte vriende,” sê Charl.

Die naweek van 20 tot 22 September gaan lede kan deelneem aan prettige water-kaskenades tydens die maandelikse kamp, dié keer by Doringbos langs die Modderrivier, naby die Krugersdriftdam.

Kry meer inligting oor die klub se bedrywighede op die Facebook-blad CCSA Southern Free State/KSA Suid Vrystaat.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.