Vrywilligers is van links Fanie Coetzer, Gert Duvenhage, Henry de Wet en Alex Viviers. Foto: Lientjie Mentz


Vrywilligers van die Good News Club (TGNC) het Vrydag (21/04) 11 uur lank gewerk om die slegte slaggate op die hoek van Jan Spies- en Maretha Maartens-straat in Langenhovenpark te vul.

Dié woonbuurtvereniging het op 4 Maart die Good News Festival by die Towers-winkel­sentrum aangebied om geld vir instandhouding van Langenhovenpark se openbare ruimtes en strate in te samel. ’n Deel van dié insameling is vir Vrydag se slaggatprojek gebruik.

Die groep vrywilligers het Vrydag om 13:00 begin met die regmaak van die slaggate by die kruising, wat baie swaar verkeer dra.

Motoriste wat laatmiddag verby die werkery gery het, het vrolik toeters gedruk om hul ondersteuning vir die werk aan te dui.

Gert Duvenhage, direkteur van TGNC wat ’n niewinsgewende organisasie is, sê die slaggate is deeglik uitgesny en opgevul teen ’n koste van net meer as R21 000.

Hy sê dit is Langen­hovenpark se inwoners wat die klub ondersteun en die geselligheid in Maart bygewoon het, wat hierdie groot projek moontlik gemaak het.

Henry de Wet, deel van die bestuur, sê uiteindelik is agt ton teer gebruik om die gate te vul.

Die groep vrywilligers het tot middernag gewerk om die slaggate te vul.

You need to be Logged In to leave a comment.