’n Jong vrouekrieketspeler het haar manlike teenstanders in ’n klubkrieketwedstryd met haar draaiboulwerk en ’n vierkuns behoorlik laat les opsê.
Nou staan Annemé Janse van Rensburg (19) onder haar klubspanmaats van Old Andreans se derde span bekend as “Shané Warne”.
Janse van Rensburg, van Bultfontein, is ’n bybreekbouler, net soos die ontslape Australiese krieketlegende Shane Warne, en word dus vanweë haar boulstyl met hom vergelyk.
Sy het op 19 November die Bobbies Raptors se kolfbeurt in ’n japtrap kortgeknip toe sy hul laaste vier paaltjies met vier agtereenvolgende balle platgetrek het. Dít nadat sy ook vroeër in dié 50-boulbeurtwedstryd ’n paaltjie laat kantel het.
’n Vierkuns – vier paaltjies met vier agtereenvolgende balle – is ’n seldsame verskynsel in krieket en sy is behoorlik in haar noppies oor haar eerste vierkuns.
Old Andreans 3 het Bobbies Raptors op die teenstanders se tuisveld, Bobbiespark in Bloemfontein, in die Mangaung-krieketvereniging (MCA) se promosieliga met 121 lopies geklop.
Bobbies Raptors was in die 18de boulbeurt almal uit vir 94 lopies nadat Old Andreans 215 in hul beurt aangeteken het, ook almal uit.
Janse van Rensburg was die enigste vrouespeler in haar klubspan. Sy het vanjaar haar eerste jaar in meganiese ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus voltooi en speel ook in die vrouespan van Noordwes se Dragons.
Sy is op haar universiteitsvakansie en het ingespring toe Old Andreans 3 ’n speler benodig het.
Haar broer, Jedri (16), speel ook vir die klubspan. Hy is ’n leerling aan die Hoërskool Bultfontein, waar sy haar hele skoolloopbaan was, en ’n speler in die Vrystaat-platteland se o.16-span.
Janse van Rensburg speel al van kleintyd saam met haar kleinboet en pa, Michris, krieket op hul plaas, Mooiuitsig, waar hulle ook die laaste paar jaar krieketnette het. Sy het bykans haar hele skoolloopbaan, sedert gr. 2 in die skool se krieketspan gespeel en was altyd die enigste meisie in haar span.
Die broer en suster het selfs op ’n kol saam in die skool se span gespeel.
Janse van Rensburg sê sy het ook vanaf gr. 7 in provinsiale meisiekrieketspanne gespeel.
Volgens haar pa, bekend om sy landboupatente, het sy in gr. 5 haar eerste en enigste driekuns behaal.
“ ’n Driekuns gebeur bitter min, maar ’n vierde paaltjie met die volgende bal gebeur eintlik nooit nie,” sê ’n trotse Michris oor die prestasie.
Sy het in Junie haar linkerelmboog in ’n motorongeluk ontwrig en het nadat sy herstel het nog nie baie kolfwerk gedoen nie. Michris sê haar deelname aan klubkrieket sal vir haar goeie oefening vir haar kolfwerk wees.
Kyle McKay (31), Old Andreans 3 se kaptein, sê Janse van Rensburg is ’n baie talentvolle speler en dat sy die wedstryd vir die span gewen het.
Hy sê hy het in die jare dat hy krieket speel nog nie ’n vierkuns behaal nie.