Klug terug op die planke

Die uiters gewilde klug My Vrou se Man se Vrou is op 23 en 24 September in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein te sien.


Die uiters gewilde klugMy Vrou se Man se Vrou is op 23 en 24 September in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein te sien.

Die oorspronklike stuk, Run for your Wife, hou die rekord vir die mees langlopende klug op Londen se Westend en het ook rekords in Suid-Afrika laat spat.

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra-produksies, sê hy is dankbaar dat My Vrou se Man se Vrougekies is om in Die Sand du Plessis-teater te speel as deel van Pacofs se artistieke program vir die jaar.

“Oor die jare het ons wonder­like speelvakke gehad met ons produksies in Bloemfontein. Ons sien uit na uitverkoopte vertonings in Bloemfontein.”

Die hoofkarakter in My Vrou se Man se Vrouis John Smith, ’n Londense taxibestuurder wat saam met sy vrou Mary in Highgate woon . . . en ook met sy vrou Barbara in Finchley, net vier minute uitmekaar.

Natuurlik is die twee mevroue Smith salig onbewus van mekaar se bestaan, aangesien John sy ongereelde werksure gebruik as ’n manier om sy dubbele lewe weg te steek.

’n Ongeluk en ’n verkeerde adres veroorsaak kettinggevolge, en John moet bontstaan om te keer dat sy geheim op die lappe kom.

Om reeds benarde sake te vererger, moet hy sy nuuskierige bure, ’n vasberade joernalis en twee agterdogtige polisiemanne ontduik.

Die twee hoofrolle word deur Phillru van Achterbergh (John Smith) en Botha Enslin (Stanley Garner) vertolk, ongetwyfeld twee van Suid-Afrika se beste komiese akteurs.

Voeg daarby name soos Marissa Claassen (Mary Smith), Danielle Britz (Barbara Smith), Thiart Li (joernalis/Bobby Franklyn), Stefan Vermaak (speur­sersant Trouten) en Etienne du Plessis (speursersant Porter­house) en jy het ’n treffer­produksie op hande.

Swart, die regisseur, verduidelik hoekom Lefra besluit het om My Vrou se Man se Vrou terug te bring verhoog toe.

“Ons het dit in 2012 die eerste keer opgevoer en groot sukses met die man en sy twee vrouens gehad.

“Ná tien jaar is dit beslis tyd vir ons om hierdie trefferklug weer verhoog toe te bring. Daar is ’n nuwe geslag wat nog nie hierdie mal stuk werk ervaar het nie, en ek glo almal gaan dit weer van voor af geniet,” sê Swart.

Hy sê ook dat Covid-19 die produksie ’n lelike streep getrek het.

“Ons vragmotors was letterlik gepak om KKNK toe te gaan, en daar kondig die president die inperkingsregulasies aan. Ai! Twee jaar lank het ek en die spelers gewag om mense weer te laat lag, maar nou gaan dit net soveel lekkerder en snaakser wees.

“Mense wil graag uitkom, en lag is die beste medisyne vir al die wroeginge waardeur ons die afgelope twee jaar moes gaan,” meen Swart.

  • Besprekings kan gedoen word by pacofs.co.za of deur 051-447-7772 te skakel.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.