Raymond Hayward, Erica en Johann Viljoen in die parkie wat hulle help onderhou in Forsythstraat in Universitas.Foto: Lientjie Mentz


Lekker gemaklik op sy grassnyer-trekkertjie sny Raymond Hayward elke week die gras by die parkie in Forsythstraat, Universitas.

Erica Viljoen, ook ’n inwoner in die omgewing, sê hulle het met die bure in Forsythstraat (wat ook ’n singel om die parkie vorm) gepraat en die meeste het ingestem om maandeliks ’n klein bydra te maak om die parkie netjies te hou.

Erica sê Tonie Rossouw het aanvanklik begin om die gras hier te sny, maar nadat Raymond sy eie trekkertjie gekoop het, is hy die man aan die stuur.

Erica sê sy en haar man, Johann, stap elke dag in die parkie en tel rommel op as dit rondlê.

“Ek gesels ook met mense wat die parkie gebruik om seker te maak dat hulle nie mors nie. Dit is interessant om te sien hoe gebruikers en inwoners van die omgewing die parkie netjies hou vandat ons begin het met die projek,” sê sy.

“Ons spreek mense ook aan as hul sypaadjies nie netjies is nie. Dit moet vir ons almal lekker wees om hier in ’n netjiese omgewing te bly.”

Erica sê die Universitas-woonbuurtvereniging lewer ’n reuse-bydra om die buurt netjies te hou, maar dit is belangrik dat inwoners rondom hul eie huise die omgewing netjies en skoon hou.

“As elke inwoner en onderneming sy deel doen, sal die stad netjies wees,” sê sy.

Die Universitas- woonbuurtvereniging het ook toegesien dat die speel-apparaat in die parkie in vrolike kleure geverf word wat daartoe bygedra het dat die parkie ’n ware lus vir die oog is.

Die Forsyth-vrywilligers hou ook die bome in stand en het beddings aangelê in die parkie wat eens deur lang gras bedek was.

“Dit is lekker om te sien hoe kinders, studente en ander inwoners die parkie gebruik. Die kinders geniet die pretpark hier. Hier is selfs ’n groep wat in die middae pilates in die parkie doen,” sê Erica.

You need to be Logged In to leave a comment.