‘n Resep uit geure, Ma Louie se knoffel-en-bierbredie

Donna Lewis

In die koue Vrystaatse winter is daar min dinge so lekker soos ’n warm bredie.

Lientjie Wessels het ’n paar jaar ’n gelede ’n besonderse kosboek deur Annake Müller Publishing die lig laat sien, genaamd Geure.

Van die heerlikste geure in die kosmaak-arsenaal word uitgelig met resepte wat dié geure tot hul reg laat kom.

Dit sluit in sitrus, gemmer, olywe en olyfolie, speserye, blomme, sout, kruie, heuning, saffraan en vanielje – en die immergewilde knoffel.

Een van die liplekker resepte met knoffel is dié wat Lientjie noem: Ma Louie se knoffel-en-bierbredie.

Sy sê vir haar is dit die verpersoonliking van trooskos. “My ma het dit altyd spesiaal vir my gemaak as ons Sondae plaas toe gegaan het vir middagetes.”

Bestanddele:

Knoffel-en-bierbredie

800 g stowevleis, ontbeen en in 3 cm-blokkies gesny

20 knoffelhuisies

125 g meel

60 ml olyfolie

3 uie, opgekap

90 g seldery, fyngekap

140 g wortels, fyngekap

5 ml droë tiemie

50 ml Franse mosterd

500 ml Belgiese bier

Ertjiepiekel

200 g vars of bevrore ertjies

6 aspersies

4 radyse, in blokkies gesny

70 ml ryswynasyn

50 g suiker

sout en peper

Metode

* Maak die knoffel-en-ertjiebredie deur elke blokkie vleis deur te sny en met knoffel te vul. Rol die vleisblokkie in die meel, skud die oortollige meel af en braai in ’n pan in olyfolie tot bruin. Skep die vleisblokkies uit die pan en hou eenkant. Braai die groente saam met die tiemie en mosterd tot sag. Plaas die vleisblokkies terug in die pan. Giet die bier by en kook oor matige hitte tot sag.

* Maak die ertjiepiekel deur die groente in ’n metaalbak te plaas. Kook die ryswynasyn en suiker saam met sout en peper tot die suiker tot dit opgelos is. Laat dit afkoel. Giet dit oor die groente en laat staan vir 15 minute.

* Sit voor op fyngemaakte aartappels waarby roomkaas gevoeg is.

You need to be Logged In to leave a comment.