Dit word elke dag ’n bietjie beter – die ewige gevoel dat jy iets verkeerd doen wanneer jy sonder ’n masker by ’n winkel instap.
Verlede week het ek elke keer wanneer ek by ’n afspraak aankom of by ’n winkel instap, woes begin rondsoek: Waar is daardie masker dan nou?
Geleidelik raak ’n mens weer gewoond daaraan dat jy nie heeltyd jou gesig moet bedek nie.
Die groot vraag is: Wat nou gemaak met al die maskers wat ons so oor die afgelope meer as twee jaar bymekaargemaak het? Die groot pak wat jy net laas maand gekoop het?
Dit is eintlik ironies hoe ons Suid-Afrikaners aanvanklik hierdie hele maskerdra-ding benader het.
Terwyl ons al jare lank gewoond geraak het aan die gebruik van Oosterlinge om gesigmaskers in die openbaar te dra, het ons dit uiters vreemd gevind.
Ons het, soos dit Suid-Afrikaners betaam, die situasie heel anders benader. Daar was hope “bling”onder die vroue. Maskers met baarde, hondjies se oulike gevreetjies, maskers in kamoefleermateriaal, en nekdoeke (buffs) wat jy oor jou mond en neus trek het gewilder geraak – noem dit en ons het dit uitgedink.
’n Vriendin van my het die mooiste shweshwe-maskers gemaak. Ek het sommer ’n klomp bestel – reg om by enige uitrusting te pas.
Sommer gou het ek egter besef dat dié mooi maskers net te onprakties is. Hulle is wárm en laat jou behoorlik na jou asem snak as ’n vergadering te lank draal. Nee, ek het later gevoel ek kry longversaking van dié pragtige maskers.
Saans het my bors gepyn van al die koolstofdioksied wat ek deur die dag ingeasem het. Of dalk was dit net die vrees vir Covid?
Die ander groot probleem was dat ek dié maskers net mooi oral verloor het. Jy dink jy druk dit in jou broeksak of handsak, en as jy dit soek, is dit skoonveld.
Daarna het die klomp geborgde maskers gevolg – elke onderneming, skool en sportklub het hul eie maskers laat maak en graag as bemarkingsmateriaal uitgedeel. Sommige was heel prakties, maar die meeste het darem net te veel gespog met die een of ander plek se naam op jou wang.
Laaste, en eindelik die mees praktiese uitweg, was doodgewone weggooibare maskers.
Steeds het ek geweier om die gewone ligblou maskers te dra, maar gelukkig was dié soort masker ook oral en heel billik in helder kleure en selfs pastelkleure beskikbaar vir mense wat dit verkies.
Noudat ons nie meer verplig is om gesigmaskers binnenshuis te dra nie, lê dié stukkies bedekking die wêreld vol. Maak jy jou handsak oop, loer daar een vir jou. In elke laai, in elke bêreplek in die motor en selfs op die onmoontlikste plekke. Net vir ingeval jy een by die huis vergeet het . . .
Dit kan wees dat ons die Covid-virus meestal ontduik het met die dra van maskers en dat talle mense se lewe gered is, maar ai, die tol wat dit op die natuur eis.
Haal net die rekkie af voordat jy ou maskers weggooi – om jou deel te doen om die omgewing te bewaar. En bêre maar die pak maskers iewers diep in ’n kas.
’n Mens weet nooit . . .