’n Liefde vir die kombuis het ontwikkel tot ’n klein Bloemfonteinse besigheid, Slim Happies, wat eers net uit gesonde happies bestaan het.
Omdat Mienke Maritz (11) te veel daarvan hou om koek te bak, het dié besigheid onlangs ’n nuwe naam, Mienke Meel, gekry.
Mienke, ’n gr. 5-leerling aan die Laer Meisieskool Oranje, sê sy was van kleins af lief vir die kombuis.
“Ek was altyd in die kombuis saam met Mamma. Ek het my eie resepte gemaak en Mamma het my toegelaat om haar kombuis vuil te maak. Mamma het my die liefde vir die kombuis gegee, maar sy kan nie bak nie. Ek hoor my oumagrootjie, Tilly, kon lekker koeke bak.”
Mienke sê dat sy haar eerste betaalde bestelling op nege-jarige ouderdom gekry het, en sy bak soms elke week vir mense koeke as sy nie te besig by die skool is nie.
Sy adverteer nie regtig haar besigheid nie, maar deel graag die koeke wat sy bak en so keurig versier op haar Facebook-blad en Instagram.
“Ek kan nie te besig raak nie. Skoolwerk is nog die belangrikste. Ek bak die koek op my eie, maar Mamma hou ’n ogie. Ek het gesê sy mag nie help nie, want haar koeke flop. Pappa het my al gehelp om groot koeke te sny.”
Mienke was vir kooklesse by Little Cooks, maar om koek te bak kom net meer natuurlik vir haar.
Volgens haar is die lekkerste koek wat sy al gemaak het ’n suurlemoen meringue-koek vir haar ouma, “wat ek sommer self uitgedink het”.
Op die vraag wat haar grootste flater nog in die kombuis was, antwoord sy: “Ek het gesê my koeke het nog nooit geflop nie . . . en toe flop een. Die helfde van die koek het in die pan agtergebly.”
Mienke se gunsteling-koek is wortelkoek, en hoewel sy dit nie vanjaar gedoen het nie, bak sy gewoonlik haar eie verjaardagkoek.
“Ek het ook al my eie kombuistoerusting en het op tien my eie Kenwood-klitser met my verjaardag-geld gekoop.”
Wanneer sy bestellings kry met ’n prentjie van wat die klant wil hê, raadpleeg sy YouTube of vra iemand wat vertroud is daarmee vir raad.
“Ek het twee boeties. My kleinboetie hou ook van bak, maar hy help my nie. Hy maak net vuil. My boeties lek net die bakke uit en eet die afsny-stukke koek op.”
Uitdagings vir haar is om genoeg tyd te hê vir skoolwerk en sport.
“Ek probeer ook om nie meer as een bestelling per week te vat nie, en verkieslik op ’n naweek. Ek doen netbal, tennis en drama. Ek hou ook van popspeel, inkleur en ek hou daarvan om buite te speel. My groot droom is om eendag ’n huis-mamma te wees met vier of vyf kinders, en ek wil ’n bekende bakker wees.”
* Volg Mienke Meel op Facebook om op die hoogte te bly van wat sy alles in die kombuis aanvang.