Koffiewinkel ‘n versteekte Bloemfonteinse skat

Dit is altyd ’n plesier om kos wat op ’n besonderse manier voorberei is, in ’n mooi omgewing te geniet.


Dit is altyd ’n plesier om kos wat op ’n besonderse manier voorberei is, in ’n mooi omgewing te geniet.

Dit is presies wat gaste kan verwag wanneer hulle aansit vir ete by D’ou Jardin Cafe by House of Interiors se vertoonlokaal in Bainsvlei. Driekie Thomas-Barnard, ’n binnenshuise ontwerper wat al 36 jaar mense se huise oor die wêreld heen met haar kundige hand mooimaak, het heel terloops ’n koffiewinkel begin.

“Ek het ’n klant by die vertoonlokaal in Bainsvlei ontvang waar ons in proses was om ’n uitstalruimte vir die rame in te rig. Sy het gesê hoe lekker dit sou wees om daar ’n koffie te drink. Net daar het ek besluit om ’n klein koffiewinkel in te rig – iets met ’n maklike spyskaart soos koek en quiche.”

Driekie vertel toe sy eendag vir dié koffiewinkel wat sy begin inrig het potte koop, het bekende Bloemfonteinse sjef Patso Nicolov ’n gesprek van haar gehoor en haar vrae oor die koffiewinkel begin vra.

“Hy was wonderlik. Net daar het ons ’n pad begin loop. Hy het my kokke kom oplei en my gehelp om ’n spyskaart uit te werk. Hy kom loer gereeld in met raad,” sê sy oor dié vriendelik sjef.

Haar kunstige hand as binnenshuise versierder is duidelik sigbaar binne die koffiewinkel. Die vrolike pienk flaminke aan die muurpapier en die luukse banke en stoele laat ’n mens voel jy word weggevoer op ’n wonderlike reis.

Dit moet vir mense voel dit is die moeite werd om al die pad tot hier in Bainsvlei te ry
Driekie Thomas-Barnard

Boonop bedien sy alles baie keurig. Proe gerus die pumpkin spiced chai of die beet-en-borrie-latté. Ook die french toast word flambojant voorgesit deur Emanuel Thinda.

Driekie sê sy het haar hande vol met haar werk, maar die koffiewinkel bied ’n heerlike nuwe uitlaatklep vir haar skeppende energie. Hulle het intussen ook regte luukse high teas begin aanbied, wat gaste regtig bederf laat voel.

“Dit moet vir mense voel dit is die moeite werd om al die pad tot hier in Bainsvlei te ry,” sê sy oor die koffiewinkel, wat sowat 15 km uit die stad is.

In die week is die koffiewinkel oop vir allerlei heerlikhede, en Sondae word spesiale middagetes bedien.

Langs die koffiewinkel kan gaste hul verlustig in die uitsonderlike meubels van House of Interiors. Die gordynwerkswinkel hier is volgens Driekie die grootste in die land en baie van die meubels en stoffering van meubels word hier gedoen.

Die D’ou Jardin Cafe en vertoonlokaal is net anderkant die Makarios Country Lodge op die Abrahamskraalpad in Bainsvlei.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.