Morele ondersteuning vir die private skoonmaakspan in Henrystraat. Van links buk Sherri van Zyl, Anja Hatting, dr. Japie van der Westhuizen (hoofbestuurder), Matswele Tlokotsi, Ezelle Streicher en Elsa van den Berg.Foto: Johan Norval


Die bestuur en personeel van SA Stamboek het die voortou geneem om hul werksomgewing in Bloemfontein in Henrystaat op te ruim.

Anja Hattingh, die administratiewe hoof van SA Stamboek, sê die algemene verval van die munisipale dienslewering in die stad het die werknemers dwars in die krop gesteek.

“Veral die onkruid op die sypaadjie na die ingang van die dieretuin groei ruig wat ’n swak indruk skep vir besoekers aan ons gebou,” sê sy.

Swartsakke met rommel van kitskos-eetplekke wat digby die ingang na die dieretuin gestort is, het ’n gesondheidsgevaar ingehou.

Die skoonmaak-aksie het onder meer die skoffel van onkruid soos boetebos op die sypaadjie en die waterafvoerbane langs die randstene behels.

Die rommel is in swartsakke versamel en saam met die bossies in ’n kontrakteur se afvalbak gegooi. Oorblywende onkruid in die plaveisel is met glifosaat-onkruiddoder behandel.

’n Ander struikelblok op die hoek oorkant die dieretuin is ’n gat in die staalheining waardeur bosslapers toegang tot die verlate dieretuin verkry.

“Om die dienslewering te verbeter, het ander instansies in Henrystraat ook reeds begin om privaatkontrakteurs vir vullisverwydering te gebruik”, sê Hattingh.

You need to be Logged In to leave a comment.