Kom geniet Franse flair op Saterdag se mark by Villa Avianto

Kom geniet die lieflike somerweer Saterdag by die Franse Mark by Villa Avianto in Kwaggafontein.


Kom geniet die lieflike somerweer Saterdag by die Franse Mark by Villa Avianto in Kwaggafontein.

Soos altyd sal daar weer ’n wye verskeidenheid stalletjies wees wat alles van tuisgemaakte produkte soos seep en skoonheidsprodukte, byderwetse klere, juwele, leerprodukte en dekor-items te koop aangebied word.

Kom geniet ontbyt by die mark of kom kuier onder die sambrele en smul aan allerlei lekkernye deur die loop van die oggend.

Fyngebak, mikrobier, smullekker etes en interessante peuselhappies sal weer op die spyskaart wees.

Suretha van Heerden, organiseerder van die mark, sê deur die jare heen is die fokus steeds op gehalte – die gehalte van die stalletjies en die gehalte van die produkte wat aangebied word.

Markgangers kan dus verseker wees dat hulle hier iets spesiaal gaan kry as geskenk vir daardie spesiale mens of om jouself te bederf.

Die mark begin om 07:30 met ’n klokkespel.

Vermaak sluit in die klanke van Jani Niehaus wat om 09:00 op kitaar verskeie romantiese Franse liedere gaan speel.

Om 10:00 speel Petro Engelbrecht Franse musiek op haar trekklavier.

Jani is om 11:00 terug met klavierspel in die kapel.

Oor middagete kan gaste uitsien na musiek deur Petro (trekklavier en klavier) en Anton Esterhuyse (klavier en dwarsfluit) waarna Jani weer om 13:00 op die terras gaan optree.

Saterdag se mark is die eerste van vele vir 2024. Teken gerus die volgende datums aan: Saterdae 6 April, 1 Junie, Vrydag 9 Augustus (Vrouedag), Saterdag 5 Oktober en Saterdag 30 November.

Toegang is R40, mense 60 jaar en ouer betaal R30, kinders van gr. 1 tot gr. 7 betaal R20 en toegang vir kinders jonger as 6 jaar se toegang is gratis.

Daar is oorgenoeg gratis parkeerplek en gaste kan in ’n veilige omgewing saamkuier tot 15:00.

Bloemnuus is die amptelike media-borg van die Franse Mark.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.