’n Oulike uitstalling van voertuie, van ’n 1953 Buick Roadmaster-modelmotor tot ’n oorspronklike kakebeenwa wat deur die Voortrekkers gebruik is, is hierdie vakansie te sien by die Nasionale Museum se Eerste Raadsaal en Waenhuis-museum as deel van ’n opwindende nuwe uitstalling, Boys and their toys – transportation through the ages.
In samewerking met die Bloemfontein-modelmotorklub bied die uitstalling ’n oorsig oor die geskiedenis van motors – van die vroegste modelle tot moderne ontwerpe.
Van die modelmotors op uitstalling sluit in ikoniese voertuie soos die Model T Ford, ’n 1935 Ford, ’n Ford Anglia en ’n Ford Escort. ’n Versameling Opel-modelle, insluitend ’n 1938 Opel Olympia, ’n 1950 Opel Kapitan, ’n 1957 Opel Kapitan, en ’n 1963 Opel Admiral, bied ’n verdere blik op hoe motorontwerpe oor die dekades verander en ontwikkel het. “Die lekkerte hiervan is, ek het ’n oom geken wat presies só ’n Opel Admiral gery het,” vertel Piet van der Linde, een van die uitstallers wat sy modelmotors kom uitstal het.
Die uitstalling bevat ook modelle van die Land Rover-reekse I, II en III, terwyl ’n versameling modelle van klassieke renmotors vervaardig deur Maserati, Ferrari, Alfa Romeo en Marmot die spoedvrate se aandag sal trek.
Jaco Hauptfleisch se poskoets-modelle en ander passasierswaens wat hy as deel van die Models of Yesteryear-reeks uit Europa ingevoer het, sal beslis ook die aandag trek. En dan is daar nog genoeg modelle van Chevs en Cadillacs om enige seunshart (en ’n pa s’n) verder te vermurwe.
Afgesien van die versameling modelmotors, kan besoekers ’n begeleide toer deur die Waenhuis-museum geniet, waar onder meer ’n ossewa, bokwa, spaider (wat behoort het aan die bekende Vader Kestell) en poskoets uitgestal word.
Die Waenhuis-museum is op dieselfde terrein as die Eerste Raadsaal geleë, wat self ’n historiese juweel is. Die Eerste Raadsaal, wat in 1849 gebou is, is die oudste bestaande gebou in Bloemfontein en die enigste oorblywende voorbeeld van die pionier-boustyl in die Vrystaatse hoofstad. Sy stewige mure, misvloer, klein venstertjies en grasdak maak dit ’n moet-sien vir diegene wat belangstel in Bloemfontein se argitektoniese erfenis.
Die Boys and their toys – transportation through the ages-uitstalling is oop vir die publiek die hele vakansie tot 15 Januarie.
Die museum is Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 16:00 oop en Saterdag van 10:00 tot 15:00.
Die museum is in St Georgestraat 95 in Bloemfontein. – Elmar du Plessis (Versamelaarsbestuursafdeling: Nasionale Museum).